24.08.2010 Grafte by Opuwo vertel ’n verhaal
 Die vyf grafte op ’n koppie met Opuwo op die agtergrond.
VERGETE is die kenmerkende pre-historiese styl van begrafnis van die Himbas van Okaoko, want vyf moderne Ovahimba-grafte op ’n koppie voor jy Opuwo binnery, getuig van die moderne leefwyse wat die volk se geskiedenis herskryf.
Die vyf grafte het die eeue-oue begrafnisstyl vervang wat met krale gepaard gegaan het en dien tans as simbole van die volk se hedendaagse lewe, teenstrydig met die huidige situasie waarin die dorp en sy inwoners gelaat is.
’n Paar honderd meter anderkant die vyf grafte is geen mikroskoop nodig om die agtergeblewendheid honderde kilometer ver te sien nie. Die hemelsbreë verskil in leefwyse vergeleke met ander etniese groepe elders in die land is duidelik; die lot van verlorenheid waaraan die volk oorgelaat is, is geen geheim nie.
Die vyf grafte is van meesters in hul eie reg; manne, leiers of onderwysers wat diep spore in die verlede van die volk getrap het. Wyle Johannes Hijazomanga Muharukua, Joseph Japuhua, Uazenga Markus Nderura, hoofman Mbumbijazo Muharukua en nog ’n naamgenoot, wyle Johannes Muharukua rus op hierdie koppie. Hul name is onafskeidbaar van die verlede van die Ovahimba van die Kunene-streek.
Hulle was aktief betrokke toe die volk vir die eerste keer aktief in die daaglikse politiek en hul eie welsyn begin word het. Toe die Ovahimba in twee politieke kampe verdeel was en teen mekaar oorlog verklaar het, het hierdie mans ingegryp om bloedvergieting tussen die twee groepe, die Okambumba en die Otjimbumba af te weer.
Die Adjunkminister van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, me. Angelika Muharukua, wat ’n familielid van die groot geeste is, het kortliks haar kennis oor die vyf grafte met Noorderlig gedeel. Volgens haar het hierdie mans hul volksgenote destyds aangemoedig om vir die land se onafhanklikheid die wapen op te neem.
By die begraafplaas wat as ’n soort heldeakker beskryf kan word, word driejaarliks feeste gehou om hul verlede te herdenk. Net uitverkore mense wat hul karakter in die volk se lewe getoon het, is bestem om daar begrawe te word.
Die besluit oor wie waardig geag word om daar begrawe te word, word deur tradisionele leiers in die streek, onder wie die voormalige streekraadslid van die Opuwo-kiesafdeling en tans die tradisionele hoofman, mnr. Edward Mumbuu, en ander geneem.
“Hulle lê daar om te hoor wat die volk in die dorp sê. Hulle waak oor die dorp,” het die Adjunkminister verduidelik.
|