DIE Otjiwarongo Gholfklub hou feitlik elke naweek ’n kompetisie en die borggeld vir kompetisies wissel van N$1 500 tot N$25 000. Volgens die klubkaptein, mnr. Dirk Potgieter (foto), het die klub 25 aktiewe lede, maar met die kompetisies neem tussen 30 en 40 spelers deel. Hy sê die klublede het self strukturele verbeteringe by die klub aangebring.
Dit sluit onder meer in N$100 000 wat aangewend is om ’n grasdak-braaiplek aan te bring waar prysuitdelings gehou word. Voorts is die badkamers by die klub opgeknap en waterverkoelingstelsel is ingebou om dit meer draaglik in die klub tydens die somermaande te maak. Mnr. Potgieter sê lede van die klub het aan die plattelandse toernooi op Hentiesbaai deelgeneem.
Elke dorp het agt deelnemers gestuur en die nasionale span het dié geleentheid as ’n oefening en voorbereiding vir die span gebruik. “Die klub neem ook gereeld aan die korporatiewe sportdae in Windhoek deel en die klub gaan in Augustus/ September ’n ope kampioenskap op Otjiwarongo aanbied waaraan alle spelers regoor Namibië kan deelneem,” sê mnr. Potgieter.
Volgens mnr. Potgieter ondersteun besighede die klub goed as dit kom by borge vir kompetisies en Securitas is die hoofborg van dié sportkode op Otjiwarongo. “Daar heers ’n gesonde gees onder die klublede wat dit vir ons makliker maak om die kompetisies aan te bied,” het mnr. Potgieter gesê.