22.07.2008

Geldsake nou nader in Omusati

EENSTOP finansiële diens in die Omusati-streek is ’n werklikheid vandat Old Mutual Namibia ’n tak op Outapi geopen het. Dit beteken dat inwoners nie meer die lang pad Oshakati toe hoef aan te pak om by hul naaste Old Mutual-tak uit te kom nie. Die nuwe tak op Outapi beskik nie net oor twee finansiële adviseurs wat kliënte volledig oor Old Mutual se produktereeks kan inlig nie, maar word ook gerugsteun deur die hele spektrum van Nedbank se dienste.

“Buiten ons groot bydrae tot die ekonomie en die aansienlike aantal mense in ons diens, stel ons Namibiërs in staat om in hul sukses te belê deur kundige finansiële advies en doeltreffende produkte om in ons kliënte se behoeftes te voorsien,” het mnr. Sakkie Nghikembua, bedryfsbestuurder van die maatskappy, tydens die amptelike opening gesê.

Old Mutual speel ’n belangrike rol in die ekonomiese transformasie van die land. Die instelling dien as voorsitter van die dagbestuur vir die opstel van die handves van die finansiële sektor en bestuur verskeie beleggings suksesvol. Dié beleggings het onder meer die oprigting van die Ongwediva Medipark moontlik gemaak, asook die mediese sentrum op Rehoboth en die opknapping van infrastruktuur van Namibia Wildlife Resorts (NWR).

Deur die Old Mutual-stigting kom die maatskappy voorts sy korporatiewe maatskaplike verantwoordelikhede na. “Old Mutual belê in gemeenskappe regoor Namibië om ’n positiewe verskil te maak daar waar ons woon en werk.

Ons fokus op volhoubare inisiatiewe in gesondheid en welsyn, onderwys, gemeenskapsontwikkeling deur middel van ons personeel wat vrywillig betrokke raak,” het mnr. Nghikembua gesê. Op die wyse is ’n aansienlike bydrae gemaak tot die tuiste vir swanger vroue by die Engela hospitaal en kon die Verre Noorde kampioenskap onlangs vir die vyfde agtereenvolgende jaar van stapel gestuur word.