
Fabupharm se produkreeks bestaan uit 120 produkte waarvan sommige plaaslik vervaardig word en ander herverpak word. Hier staan mnr. Fanie Badenhorst van Fabupharm met ‘n nasale kruiedruppel, Oleum Nasalis, een van die nuwe produkte in die Fabupharm-reeks, wat aangewend kan word om sinusse en lugweë oop te maak.
DIE vestiging van die Fabupharm farmaseutiese maatskappy op Otjiwarongo het ‘n groot leemte in die mark gevul met die vervaardiging van aanvaarbare generiese ekwivalente, toiletware preparate en voedingsaanvullings van die hoogste standaarde teen baie kompeterende pryse.
Fabupharm is in 1989 gestig en geregisteer deur mnr. Fanie Badenhorst en het in 1990 begin met ‘n klein verpakkings- en vervaardigingsaanleg. Dit sluit in akwarome, die verpakking van petroleumjellie en olies. Sedert 1991 is spesialiteitsprodukte soos insekweerder of versoetingstablette ontwikkel en plaaslik bemark.
Al hierdie produkte is vervaardig en verpak volgens die maatreëls van die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste. Twee jaar later het Fabupharm na ‘n nuwe perseel verhuis wat ontwikkel is volgens die riglyne van ‘n farmaseutiese vervaardigingsmaatskappy.
Die maatskappy het voortgegaan met die vervaardiging en herverpakking van toiletware en is voorwaardelik toegelaat om sommige farmaseutiese produkte soos tablette en kapsules in te voer vir herverpakking en etikettering en vir lewering aan die sentrale mediese stoor per regeringstender. Fabupharm is ook voorwaardelik toegelaat om sekere strope en suspensies vir die Namibiese tendermark onder die lisensie van ‘n Europese vervaardiger vir die Namibiese mark te vervaardig.
Tans is die fabriek toegerus en personeel opgelei om farmaseutiese produkte te vervaardig in ooreenstemming met internasionale standaarde en beginsels van aanvaarde vervaardigingspraktyke. Die maatskappy het 25 werknemers, waarvan 19 voorheen benadeelde Namibiërs is. Fabupharm vervaardig geïmproviseerde ongeregistreerde produkte, asook voedselaanvullings en vitamienstrope.