Noorderlig


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

23.02.2010

Eie huis danksy Saambou-projek


Maria Emanual en haar dogtertjie Albertina glimlag breed oor hul eie huis wat hulle eersdaags kan betrek.
MARIA Emanual van Grootfontein se droom het, danksy die saambou-projek van die munisipaliteit, waar geword. Sy is in staat gestel om op grond van haar verdienste R40 000 te leen vir die bou van haar eie huis.

Die geld is egter nie in een bedrag uitbetaal nie. Sy moes ’n bouer aanstel wat die eerste paar honderd dollar gekry het sodra die fondasies goedgekeur is, en dan het hy sy geld stuk-stuk verder ontvang soos die projek gevorder het.

Hierdie maatreël is daargestel om te voorkom dat die geld wanbestee word, of dat kontrakteurs met geld wegloop. Die eienaar moes dan self kwotasies kry vir die boumateriaal waarna dit goedgekeur word en die betaling daarvan deur die munisipaliteit gedoen word.

So het Maria se huis stukkie vir stukkie gevorder en binne ’n maand was dit klaar.

In Mei 2009 het sy aansoek gedoen vir die lening, in Oktober is dit goedgekeur en op 18 Desember is begin bou.

Maria vertel dat sy baie dankbaar is teenoor Ilze en Hans Steyn wat gehelp het om die gehalte van werk voortdurend te monitor aangesien hulle baie meer ervaring as sy op hierdie gebied het.

Vir Maria en haar dogtertjie Albertina is die vooruitsig om in ’n eie huis in te trek, ’n groot ervaring. Hulle is baie trots om ’n eie huis te hê en dankbaar dat hulle nie meer by familie hoef te loseer nie. Maria het ingespring en op baie kunstige wyse die voordeur van haar huis in ’n pragtige etniese motief kleurryk geverf.

Sy gaan haar plekkie mooi maak en het reeds ’n boom geplant. Rondom Maria se huis verrys nog huise wat deur middel van die saambou-projek van die munisipaliteit gebou word.

Hierdie projek maak dit vir mense moontlik om met die hulp van die bestuur en geld van die munisipaliteit eienaars te word en op die ou einde hulle huise ook self te betaal.