22.07.2008

Doepsraad gooi sy gewig in

DIE Okakarara Gemeenskap se Kultuur en Toerismesentrum (OCCTC) is amptelik op 9 Julie, 2008, op kleurryke wyse ingewy. Daarmee het die dorpsraad van Okakarara getoon dat hy hom beywer vir die bevordering van toerisme ten einde sy gemeenskappe en gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe te bemagtig.

Mnr. Ernst Katjiku, die burgemeester van die dorp, het tydens die geleentheid gesê dat sy raad die OCCTC gaan ondersteun om te verseker dat die sentrum selfonderhoudend word, en ook om toe te sien dat dit nie vandalisme ten prooi val of dat die sentrum die spreekwoordelike “wit olifant” word nie.

“Vandag word die geskiedenisboeke oor Okakarara herskryf – waar ‘n mylpaal bereik is in die verwesentliking ingevolge die bemagtiging van die gemeenskappe in die kiesafdeling en sy gemeenskapsgebaseerde organisasies.

“Die amptelike oorhandiging van hierdie sentrum het op die regte tyd gekom waar ons as gemeenskappe onsself oorgehaal het om ons pogings te verskerp ten opsigte van die hervorming van die dorp as ‘n toeristebestemming.

“Veral die geskiedkundige verbintenis en die agtergrond van die omgewing tydens die Herero-opstand in 1904 teen die Duitse koloniale heerskappy, dien as ‘n groot aantrekkingskrag vir toeriste,” het mnr. Katjiku gesê.