24.08.2010 C’est si Bon is groter, beter
MET sy 18 nuwe kamers spog die eienaar van C’est si Bon, mnr. Hendri Greeff, met een van Otjiwarongo se gewildste lodges. Die slaapplekke is almal van hoë standaard en toegerus met platskermtelevisies, lugverkoeling, en suite-badkamers en al die nodige ekstras om enige gas se verblyf so gerieflik moontlik te maak.
Vyf-en-veertig werknemers staan gereed om gaste in die altesame 39 kamers, konferensiefasiliteite en restaurant te bedien. Hendri, ’n boorling van Otjiwarongo, is al vier jaar aan die stuur van sake by C’est si Bon en het reeds heelwat veranderinge aangebring. Een van die veranderings is ’n nuwe spyskaart wat gereeld met nuwe toevoegings aangevul word.
Hy is van mening dat die egte Namibiese spyse een van die sterkpunte van die lodge is. Behalwe vir die gewilde oornagfasiliteite en lekker kos, is die konferensiesale ook opgeknap. ’n Lapa wat vir die doeleinde ingerig is, kan aan sowat 45 mense sitplek verskaf en die konferensiesaal kan 200 hanteer.
Die sale is albei toegerus met puik klankstelsels, ’n verskeidenheid mikrofoonopsies, oorhoofse projektors en skerms. Hendri het sy studies in hotelbestuur aan die Hotelskool van Witwatersrand voltooi. Sy uitgangspunt is dat die lodge so gemaklik as moontlik vir besoekers moet wees met ’n huislike atmosfeer waar gaste later vriende raak.
|