24.06.2008

Boere moet kan bestuur

© Francois Poolman
Vanjaar se meesterakkerbouer, mnr. Louis Steyn, in een van sy mielielande.
GOEIE bestuursvermoë en organisering is kardinaal vir boere om met die stygende insetkoste kop bo water te hou. Dit is die mening van mnr. Louis Steyn van die plaas Frauenlob naby Grootfontein wat vanjaar as die meesterakkerbouer aangewys is.

Mnr. Steyn en sy vrou Jakkie is nou ses jaar op die plaas en met sy aankoms was dit net ‘n kaal stuk vlakte waarop hy ‘n huis gebou het en landerye aangelê het. Hy het aan die Landboukollege Neudamm gestudeer en het in 1989 deeltyds met beeste begin boer.

Daarna was hy by die vervoerbedryf betrokke, maar sowat twee jaar gelede het hy sy laaste vragmotor verkoop en is nou ‘n voltydse boer. “Dit is belangrik dat jy ‘n goeie werkverhouding met jou arbeiders handhaaf en dat julle eerlik met mekaar moet wees. Voorts het boerdery deesdae soos ‘n besigheid geword waar organisering en die bestuursvermoë van die boere op die proef gestel word. Boere kan nie meer so oor die duim boer nie.

Daar moet deeglik oorweging geskenk word aan uitgawes en dit moet teen die inkomste opgeweeg word. Veral met die stygende insetkoste moet boere toesien dat hulle nog steeds ‘n wins kan maak,” het mnr. Steyn gesê. Volgens hom is dit ook belangrik dat die werkers altyd weet wat van hulle verwag word en dat diegene wat hard werk, se salarisse dienooreenkomstig aangepas word.

Voorts het mnr. Steyn daarop gewys dat dit deesdae veiliger is vir boere om hulle op gemengde boerderye toe te spits. Hy sê dat sy boerdery op 60 persent mielies en 40 persent bees geskoei is. “Sodoende word die risiko’s beperk, veral as probleme met van die produkte ondervind word.”

Mnr. Steyn, saam met nog ‘n Grootfontein-boer, mnr. Danie Marais, doen proewe in samewerking met ABC ten opsigte van bemesting en plantestand. Hy sê dit stel hulle in staat om beter inligting oor mielieproduksie aan boere te verskaf.