24.06.2008

Blaauwberg verkoop duisende beeste

SOWAT 5 000 beeste word jaarliks deur Blaauwberg Afslaers op Grootfontein verkoop. Die lewendehawe-beampte van Blaauwberg, mnr. Gillie Bassingthwaighte, sê dat daar twee veilings per maand gehou word en dat gemiddeld 500 beeste tydens ‘n veiling verkoop word. In Januarie en Desember word net een veiling per maand aangebied.

Voorts word ‘n speenkalfveiling vir 6 Augustus vanjaar op die dorp beplan en volgens mnr. Bassingthwaighte sal sowat 1 250 diere te koop aangebied word. Die boere skryf die kalwers in pakkies van 200 in en staan dan ook sommer ‘n kans om pryse te wen. Die pryse van beeste het omtrent dieselfde as verlede jaar gebly en kalwers tot met 200kg word gemiddeld vir N$11,70 per kilogram verkoop.

Beeste van 250 kg word vir N$11,75 verkoop, terwyl die gemiddelde prys vir vet koeie N$9,60 is en die van medium en maer koeie onderskeidelik N$9,00 en N$8,30 is. Volgens mnr. Bassingthwaighte is die probleem opgelos wat boere gehad het om oorplaatjies vir hul diere te kry alvorens dit op ‘n veiling verkoop kan word. Hy sê dit neem miskien ‘n bietjie tyd om die plaatjies te kry, maar die boere reël betyds om dit in die hande te kry om hul beeste op die veilings te kan verkoop.