22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.08.2010

Auas Motors sterker op Otjiwarongo

© Verskaf
Die nuwe tak van Auas Motors wat onlangs sy deure op Otjiwarongo oopgemaak het.

MET die samesmelting van Auas Motors en Namibia Motors vroeër vandeesmaand is Otjiwarongo nou ook in die Auas-stal. Die General Motors handelaars- tak wat voorheen onder die vaandel van Namibia Motors bedryf word, is nou ’n volwaardige Auas Motors tak.

Die handelaarshoof van die Otjiwarongo-tak is mnr. Marius Faul. Hy het reeds meer as vyf jaar ondervinding by Auas Motors se hooftak in Windhoek, waar hy aanvanklik as werkwinkelbestuurder begin het en later as bemarkingsbestuurder oorgeneem het. Soos landwyd by Auas Motors takke die geval is, sal beide nuwe en tweedehandse voertuie verkoop word.

“Ons wil veral op die diens van voertuie by ons noordelike takke konsentreer omdat instandhouding een van die belangrikste aspekte van motoronderhoud is. Ons het reeds die werkswinkels ten volle met die mees moderne toerusting en rekenaars toegerus. Deesdae koppel ’n mens mos die voertuie op die rekenaars om ’n onmiddellike akurate evaluering van die voertuig te kry,” verduidelik mnr. Gawie Koekemoer, die hoof van verkope van Auas Motors.

Hy vertel dat Namibië ’n skaarste aan goed opgeleide, ten volle gekwalifiseerde motortegnici het. Om hierdie rede gee Auas Motors opleiding aan sy personeel. Nuwe werknemers wat die nodige aanleg en talent het, word as vakleerlinge aangestel en ontvang dan indiensopleiding.

Dosente word gereeld van General Motors in Suid-Afrika na Windhoek gebring om opleidingskursusse te kom aanbied wat dan deur vakleerlinge van regoor die land bygewoon word. ’n Nuwe opleidingsmetode wat ook met vrug gebruik word, is vakleerlinge wat met behulp van die internet deur die sogenaamde LMS-program modules doen en sodoende hul kwalifikasies verwerf.

In een van die betekenisvolste samesmeltings van handelaars, het Auas Motors en Namibia Motors, wat ’n volle filiaal van die Hangala groep van maatskappy was, kragte saamgesnoer. Namibia Motors het hoofsaaklik in die noorde van Namibië sake gedoen en dienssentrums op Otjiwarongo en Oshakati gehad.

Ingevolge die sakeooreenkoms tussen die twee maatskappye word dienste soos voertuigverkope, herstel en instandhouding en die verkoop van onderdele by die voormalige takke van Namibia Motors voortaan deur Auas Motors behartig.

Voorts word die uitvoerende voorsitter van die Hangala groep, dr. Leake Hangala, ’n nie-uitvoerende direkteur van Auas Motors.

Met die bekendmaking van die ooreenkoms het die voorsitter van Auas Motors, mnr. Nico Tromp gesê: “Auas Motors verwelkom die geleentheid om sy teenwoordigheid in die digste bevolkte deel van die land te versterk. Ons verwelkom ook dr. Hangala op die Auas Motors direksie en is oortuig dat sy breë sakekundigheid en uitgebreide korporatiewe netwerk waarde tot die werksaamhede van Auas Motors sal toevoeg.”

In sy reaksie het dr. Hangala gesê: “Die nuwe ontwikkeling is goeie nuus vir klante van GM-produkte in die noorde van Namibië sover dit die beskikbaarheid van produkte, onderdele en diens van voertuie betref, veral gegewe die deurlopende gehalte diens, vaardighede en ondervinding van Auas Motors in die motorvoertuigbedryf.”