24.08.2010 Alkohol se rol in misdaad beveg
SEDERT Januarie vanjaar is 87 voorvalle van gewelddadige misdade wat direk met alkoholmisbruik verband hou, binne die grense van die Oshikoto-streek aangemeld. In die afgelope jaar is reeds soveel as ses moorde (vier daarvan op vroue), 58 aanrandingsake waarby gebreekte bottels of messe betrokke was, twee verkragtings en 22 ander algemene aanrandingsake aangemeld.
Dit het die polisiekommissaris van die streek genoop om ’n vergadering met gemeenskapsleiers, dorpsraadlede, streeksraadlede en ander belanghebbendes te belê om die probleem van drank en gepaardgaande geweldsmisdade te probeer verminder deur die gemeenskap rakende die wet op te voed.
“Ons mikpunt is om hierdie oortredinge en misbruik te verminder.”
Komm. Annemarie /Gôagoses sê die polisie voer gereeld klopjagte uit waarin minderjarige alkoholgebruikers uit laataandkuierplekke gehaal word. Volgens haar lê die grootste probleem nie by die kinders wie se ouers inwoners van Tsumeb is nie, maar by loseerders vanuit die Noorde wat in die dorp skoolgaan.
Hierdie kinders bly in talle gevalle by mense wat minimale of selfs geen toesig hou nie. Soortgelyke klopjagte is onder andere op Grootfontein, Oshiwelo, Tsumkwe en Tsintsabis uitgevoer. Me. /Gôagoses meen die vergadering het baie positiewe terugvoer gelewer en dat almal teen minderjarige drinkery gekant is.
Die Drankwet, Wet no. 6 van 1998, Artikel 56, vereis dat geen gelisensieerde persoon, bestuurder of werknemer aan enige persoon jonger as 18 jaar enige drank of middel mag verkoop of verskaf wat meer as drie persent alkohol per volume bevat nie.
Artikel 49 (b) beveel dat so ’n gelisensieerde persoon ’n prominente kennisgewing moet vertoon waarop die Wet uitgespel is. Artikel 71 van die Drankwet bepaal dat enige persoon, ongeag of hy die lisensiehouer is of nie, wat enige alkoholiese drank aan ’n persoon onder die ouderdom van 18 verkoop of verskaf, die landswet oortree.
|