
Van die huishoudings van Sesfontein wat aan die program deelneem, saam met hul opleiers, me. Lourensia Ganuses en mnr. Wilbard Neliwa (tegnikus).
DIE trekdierkrag-versnelprogram van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en die Namibië Akkerbouraad wat ook as die Draught Animal Power Acceleration Programme (DAPAP) bekend staan, doen wondere onder die agtergeblewe gemeenskappe in die platteland. Altesaam 16 huishoudings op Sesfontein het vandeesmaand opleiding ondergaan en was hoogs in hul skik met wat hulle geleer het.
Die program het ten doel om deur middel van akkerbou en tuinbou armoede in die landelike gebiede te verminder volgens die Nasionale Beplanningskommissie se armoedeverminderingsprogram. DAPAP is ’n program wat gesamentlik geloods word deur die Plattelandse Armoedebekampingsprogram (RPRP) van die Europese Unie wat bykans N$14 miljoen bewillig het en die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling wat ’n bedrag van meer as N$740 000 ingepomp het vir die implementering van die San/DAPAP-program.
Huidig word die program in nege streke toegepas, naamlik Ohangwena, Omusati, Oshana, Oshikoto, Kavango, Caprivi, Otjozondjupa, Omaheke en Kunene. Volgens die program word kleinboere in die genoemde streke gehelp om hul oeste per hektaar te verhoog en terselfdertyd ook hul tyd te bespaar en nuttig te gebruik omdat die meeste werk met trekdierkrag gedoen word.
Om die program te laat slaag, is bewusmakingsveldtogte en opleiding nodig op die gebied van trekdierkrag, MIV en vigs, geslagen omgewingsake. Voorts word die kleinboere gehelp om toegang tot kredietfasiliteite te kry deur middel van die Leningswaarborgfonds van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou wat deur AgriBank geadministreer word.
Wanneer die program in Julie 2009 ten einde loop, word geskat dat 4 050 kleinboere (huishoudings) opgelei sal wees in die gebruik van trekdierkrag, ekonomie, geslagsake, MIV en vigs asook omgewingsake. Daar sal dan 135 San-huishoudings gehelp wees met mikrolenings om trekdiere en tuinbouimplemente aan te koop. Sowat 700 huishoudings wat nie oor voldoende waarborge beskik nie, sal toegelaat word om gebruik te maak van die Ministerie se Leningswaarborgfonds (LGF).