22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.02.2010

Agri College vir Grootfontein



GROOTFONTEIN Agri College is nou ’n werklikheid. ’n Saal vol belangstellendes het op Vrydag 12 Februarie in die saal van die Hervormde kerk op Grootfontein byeengekom om die nuut beplande landbouskool op Grootfontein te bespreek. Deurentyd is klem gelê op die feit dat die stigting van hierdie skool gebore is uit ’n behoefte in die gemeenskap en nie gebaseer is op ontevredenheid met enige ander skool of kompetisie met enige ander skool nie.

Die ontstaan van hierdie landbouskool kan egter vir die gemeenskap en die ekonomie van Grootfontein baie beteken. Dit kan ’n ekonomiese en landboukundige inspuiting vir Grootfontein en distrik beteken aangesien belangstelling van regoor die land kom en die skool leerders vanuit die hele Namibië en moontlik Botswana sal trek.

Die reëlingskomitee het deeglike navorsing gedoen en ’n voorlegging opgestel. Navorsing is geskool op ervaring van ander private skole in Namibië en Suid-Afrika. Groot waardering is uitgespreek teenoor Windhoek Afrikaanse Privaatskool en navorsing wat deur dr. Louis Burger op hierdie terrein gedoen is.

Na deeglike besinning en oorweging van alle leerplanne is tot die slotsom gekom dat die Cambridge-leerplan die mees geskikte vir die Namibiese kind is en dat dit dus gevolg sal word. Afrikaanse onderrig sal aanvanklik in die laer fases aangebied word met ’n geleidelike oorskakeling na Engels, sodat die graad 11- en 12-klasse slegs in Engels sal wees met die HIGSCE eksterne eksamen.

Mnr. Michael Steinbrück van Windhoek het die nuwe, sogenaamde slim bord (foto) wat in die klaskamers gebruik gaan word, bekendgestel. Dit is ’n elektroniese skryfbord wat soortgelyk is aan ’n rekenaarskerm, maar wat met uitstekende resultate deur die onderwyser in die klas op ’n interaktiewe manier van klasgee gebruik kan word.

Die doelwitte van die skool sluit onder andere in uitstaande onderwys in ’n plattelandse omgewing, met kinders wat deel sal wees van ’n kultuur van skooltrots en wat op elke vlak kompeterend is. Die bestuursvlakke en die finansies is ook bespreek en die skool sal ’n artikel 21-maatskappy wees, wat beteken dat dit soos ’n besigheid sonder winsbejag bedryf sal word.

Skoolvakke sal alle akademiese vakke asook landbouvakke insluit wat dit vir leerlinge moontlik sal maak om akademiese rigtings soos B.Sc. Landbou, Landbou-ingenieurswese of Landbou-ekonomie aan tersiêre instellings te volg. Ander studierigtings soos Medies of BA is egter nie uitgesluit nie.