
Van links, me. Lucky A. Ndokosho van die Ministerie vir Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur in die Oshikoto-streek, mnre. Engel !Nawatîseb, burgemeester van Tsumeb, en Lebbius Tangeni Tobias, streeksraadslid vir die Tsumeb-kiesafdeling, was eregaste by die feesviering van Wêreldjeugdag op Tsumeb.
SLEGS 65% van die ekonomies aktiewe ouderdomsgroep van die land dra tans tot die werkersmag by. Dié statistiek is op Wêreldjeugdag op Tsumeb aan die gehoor deur mnr. Vilho Shikoha, sekretaris van die Swapo Jeugliga en voorsitter van die Oshikoto-streek se jeugforum, voorgelees.
In sy motiveringstoespraak het mnr. Shikoha aan sy gehoor van ongeveer honderd benadruk dat jongmense ’n aanwins vir die ontwikkeling van die land is. Volgens hom is dit die prioriteit van die Nasionale Ontwikkelingsplan om die finansiële behoefte van die jeug raak te sien en hulle met die regte vaardighede toe te rus.
Die burgemeester van Tsumeb, mnr. Engel !Nawatîseb, het die jeug van die Oshikoto-streek aangemoedig om van hul bevoorregte posisie gebruik te maak en die geleentheid met albei hande aan te gryp sodat hulle self beheer oor hul toekoms kan neem.
Die dag is ander die tema “Dialoog en wedersydse begrip” gevier. Vorige temas was onder meer 2009 se “Volhoubaarheid as uitdaging”, in 2008 “Jeug en klimaatsverandering” en in 2007 “Jou deelname in ontwikkeling”.