
Die BMW van Rolf Pretorius en Tinus Malan is een van die ouer voertuie wat aan die tydren deelgeneem het. Die span het ’n tweede plek in Klas S3 daarmee losgery.
VINNIGE en lang sneldele wat min vernuf van tydrenjaers gevra het, was aan die orde van die dag tydens die Walvisbaai-tydren wat in die omgewing van Rooibank in die Walvisbaai-gebied afgehandel is.
Die plaaslike tydrenspan, bestaande uit Riaan van Rensburg en navigator Micheal van Zyl in ’n Volkswagen Polo, wat van meet af gewys dat hulle met die louere gaan wegstap, moes uiteindelik met ’n algehele sesde plek tevrede wees.

Riaan van Rensburg en Michael van Zyl se Volkswagen Polo het goed vertoon en in die meeste van die sneldele die vinnigste tye aangeteken. Op tegniese gronde is hulle egter gepenaliseer en moes as gevolg daarvan 12 minute inboet.
Dit is vanweë ’n tegniese fout wat ’n baanbeampte met ’n inskrywing in hul boek begaan het. Aangesien hulle op die baanbeampte se tyd gewerk het, het hulle té vroeg in sneldele ingegaan. Dié omstredenheid het veroorsaak dat hulle met 12 minute gestraf is. Indien die tegniese reël met baie los punte hulle nie gepootjie het nie, sou hulle as algehele wenners klaargemaak het – met ’n tyd van 11 sekondes vinniger as dié van Jaco van Dyk en navigator Michel Rust.
Laasgenoemde is toe as algehele wenners gekroon. Van Rensburg-hulle was die gunstelinge en het in vyf van die tien sneldele waaruit die tydren bestaan het, die beste tye aangeteken.

Die veteraanspan van Dippies Dippenaar en Meyer du Raan in hul Hyundai Accent was bestendig en het Klas S1 gemaklik gewen.
Van Dyk, wat vir die eerste keer agter die stuur van ’n Volkswagen Polo was, het aanvanklik stadig begin, maar namate die tydren gevorder het, het hy al beter gery en vier van die laaste vyf sneldele ingepalm.
Dick Cornelissen en navigator Cindy Wienrebe in ’n Toyota Corolla RSI, wat vir die eerste keer as span saam gery het, het bietjie meer as twee minute ná Van Dykhulle in ’n goeie tweede plek klaargemaak. Hulle is gevolg deur die altyd bestendige Hannes Arangies en navigator Werner Gevers, ook in ’n Toyota Corolla.

Jaco van Dyk het sy nuwe Volkswagen Polo goed hanteer en hy het die eerste plek op die podium behaal.
Dippies Dippenaar en navigator Meyer du Raan was net ná hulle. Dit was Dippenaarhulle se eerste tydren in ’n baie lang tyd en ook die eerste keer wat hulle met ’n Hyundai Accent gery het. Teleurstellend was die feit dat die Rally-bokkies, soos wat Stefanie Hugo en navigator Marina Viera-Lourens in hul haastige Subaru WRX STI bekend staan, weer nie kon klaarmaak nie.
’n Probleem met die turbo van die voertuig het blykbaar veroorsaak dat hulle nie genoeg krag in ’n draai kon toepas om die motor daardeur te trek nie. Hulle het ’n sandwal getref en die Subaru het omgeslaan.
Opvallend was die groot aantal voertuie wat weens meganiese probleme nie die tydren kon voltooi nie. Van die 14 voertuie wat weggespring het, kon net agt klaarmaak. Die volgende nasionale tydren is in Augustus op Hentiesbaai en dan sal die stryd tussen die Volkswagens sekerlik voortgesit word.