Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

11.12.2009

Tony Rust gaan môre weer dreun


Michel Rust

DIE tafel is gedek vir ’n vyfgangmotorsportdis die naweek wanneer altesaam 15 renmotors uit Suid- Afrika in Windhoek saamtrek om teen die bestes van Namibië mee te ding.

Uit Gauteng is dit die topjaers van Klerksdorp Raceway wat in Windhoek opgedaag het om hul staal op die ovaalbaan te wys en uit die Kaap is dit vyf jaers van die Western Province Motor Club wat die Namibiërs wil kom wys wat hulle op die langbaan kan doen. Hulle gaan ook almal later aan die ovaalbaanrenne deelneem.

André Cronje, hooforganiseerder van die byeenkoms op die Tony Rust-baan.
Die man wat agter die skerms die hardste gewerk het om te sorg dat motorentoesiaste ’n motorsportdis uit die boonste rakke gaan beleef, is die visevoorsitter van die Windhoek Motorklub (WMK), mnr. André Cronje. Hy het uit sy pad gegaan om die laaste motorsportbyeenkoms vir 2009 op die Tony Rust-renbaan môre vir toeskouers en deelnemers die moeite werd te maak.

“Ek is baie opgewonde oor die gehalte van die jaers wat ons uit Suid-Afrika gekry het om teen ons bestes te kom ry. Ons het net gemeen ons is dit aan ons motorsportliefhebbers verskuldig om ’n groot byeenkoms aan te bied. Soos in die verlede, het Engen Namibia ook nie gehuiwer om ons as hoofborg van die dag by te staan nie. Ons het waardering vir hul oop hand en die wyse waarop hulle motorsport in die land ondersteun,” het mnr. Cronje aan Motortydskrif gesę.

Peter van der Poel
Môre se program is propvol aksie en die eerste langbaanrenne sal reeds om 13:00 begin. Hier kan Peter van der Poel wat die afgelope naweek die titel as WP se langbaankampioen in klas-C in sy Toyota Conquest ingepalm het, moeilikheid beteken vir plaaslike jaers.

Sy spanmaat Keith Wilson in ’n Volkswagen Jetta, is net so bedrewe agter die stuur en was al voorheen ovaalbaankampioen in die WP. Hulle word vergesel van Ernest Eleite (Black Bob) in ’n Opel Kadet, veteraan Dirk Kruger wat in Suid-Afrika in dieselfde asem as die legendariese Sarel van der Merwe genoem word en ook Brian Heburn in ’n Toyota Tazz.

Pierre Marais
Hulle sal te staan kom teen Michel Rust, die huidige voorloper in die Namibiese kampioenskap wat dusver vanjaar die meeste punte met sy Nissan Sabre aangeteken het. Michael van Zyl wat die afgelope tyd in ’n Toyota in aksie was, se VW Golf is weer reg en die verwagting is dat hy vir ’n verrassing kan sorg. So ook Richard Owen van Otjiwarongo wat in ’n Subaru gaan jaag en nog ’n onbekende faktor op die langbaan is.

Bazill van Rhyn daarenteen, is een van Namibië se jong renjaers wat altyd die verbeelding aangryp wanneer hy op die baan is. Hy weet hoe om sy Volkswagen Polo te hanteer en hy gaan toeskouers beslis waarde vir hul geld gee. Hy gaan blykbaar later die aand ook aan ovaalbaanrenne deelneem. Motorfietse gaan ook weer in aksie wees en hier is dit Richard Owen op sy Yamaha R1 wat voor is met punte.

Ernest Eleite
Richard Owen het gesę dat hy ook sy Yamaha R1 gaan saambring om ander jaers in die afdeling vir motorfietse aan te vat. Wat ovaalbaanrenne betref, kom altesaam tien renmotors van Klerksdorp Raceway waarvan vyf met wankelenjins toegerus is. Die voertuie gaan in die klas vir hotrods deelneem, waar die heersende Namibiese kampioen, Pierre Marais, hulle in sy Opel Superboss gaan pak.

Hy sal bygestaan word deur die jong Wilro Dippenaar in sy Opel Tigra, ook met ’n wankelenjin. Hulle gaan onder meer te staan kom teen Ivan Coetzer wat in aksie gaan wees in die Renualt Clio wat voorheen aan Owen behoort het. Coetzer is ’n jaer wat kan spog dat hy al die Suid-Afrikaanse ovaalbaankampioenskap kon inpalm en ook ’n eerste plek losgejaag het tydens ’n węreld-agtland-byeenkoms in Suid-Afrika.

Wilro Dippenaar
Dewald Roos, ook in ’n Clio, wat op die oomblik ’n tweede plek op die Klerksdorp Raceway se punteleer beklee, is self ’n jaer waarmee rekening gehou moet word. So ook sy klubmaat Seun Nagel wat op die oomblik die klubkampioen in Klerksdorp is.

In die klas vir viersilinders, het Wilro Dippenaar in sy Peugeot 206 ’n appeltjie te skil met Riaan Labuschagne in sy Audi TT wat hom tydens verlede jaar se byeenkoms in Windhoek geklop het.

Voeg daarby die name van Kabous Venter en Morné Nagel en almal weet hulle gaan vir opwinding op die ovaalbaan sorg. Renstelle gaan ook in aksie wees en dit lyk asof ses inskrywings in die afdeling ontvang is. Hekke open reeds om 10:00. Kaartjies kos N$50 per volwassene en N$25 vir kinders bo 12 en is geldig vir alle renne op die dag.