FIAT se nuwe 500 word deur die vervaardiger beskryf as ’n supermini wat dieselfde luukshede en ritgehalte bied as groot voertuie. Die voertuig het vroeër in Windhoek aangekom waar dit by Spes Bona Fiat besigtig kan word. Die handelaarskap het juis môre ’n opedag waar belangstellendes ’n kans kan kry om self met die Fiat 500 te ry.
Die besturende direkteur van Spes Bona, mnr. Pieter Senekal, is baie opgewonde oor die waarde wat die Fiat 500 tot die fabrikaat se modelreeks kan toevoeg. Hy nooi dus almal na môre se opedag om na Fiat se opwindende motors te kom kyk. Deure maak 09:00 vir die publiek oop en die toetsritte sal tot 12:00 duur. Motortydskrif het geleentheid gehad om op ’n baie kort rit met die voertuig te gaan, en was nogal beïndruk met wat dit bied.
Die 1.4-liter enjin van die Fiat is nou nie juis die lewendigste wat daar is nie, maar die bykomende sportknoppie en die sportiewe klank van die uitlaatpyp laat dit erg sportief klink. Voorts het dié kultus-voertuig alles wat oop en toe maak as toerusting binne. Wat veiligheid betref, het die 500 ongetwyfeld ’n nuwe standaard vir klein stadsmotors geskep.
Al die modelle in die reeks het sewe lugsakke, sluitweerremme (ABS) en elektroniese remkragverspreiding en daglig-ryligte. Die 500 is boonop die kleinste motor nóg om volpunte in die streng Euro NCAP-botstoetse te behaal. Dit het ook reeds die onderskeiding dat dit as die Europese Motor van die Jaar aangewys is.
Die nuwe Fiat 500 bied aan kopers die keuse van ’n moderne 1.2 liter- of 1.4 liter-petrolenjin. Op die 1.4-modelle kry die koper boonop stabiliteit- en wieltolbeheer en klein gemaksfunksies soos opdraande-wegtrekhulp by. Fiat sal die 500 bemark as ’n “unieke massaproduksiemotor”. Dis vanweë die lang lys van meer as 500 000 verpersoonlikingsopsies wat daarop neerkom dat elke eienaar met sy spesifieke voorkeure, sy motor kan inrig na sy smaak.
Dit word saam met verkoopspersoneel op rekenaar gedoen waarna die bestelling na die fabriek in Italië gestuur word. Vir dié spesiale bestelling sal jy egter ses maande moet wag, maar die resultaat daarvan is ’n unieke voertuig, die enigste in die wêreld wat spesifieke kenmerke het volgens die smaak van individue.