Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

24.08.2010

Spark skitter met sy bekendstelling



VOORTAAN sal voornemende kopers van die gewilde Chevrolet Spark kan kies tussen die ou Spark (ofte wel die Spark Lite) waarvan die L-model vir net meer as N$84 000 gekoop kan word tot die duurste van die nuwe Sparks waarvan die topmodel N$127 000 kos.

Die nuwe Spark is onlangs in Windhoek bekendgestel en daarmee het Chevrolet gebly by sy konsep om die Spark met voertuie bokant sy marksegment te laat meeding, nie slegs wat prys, ruimte en werkverrigting betref nie, maar ook algemene aansig en bekostigbaarheid.

Anders as wat meeste mense dink, het die nuwe Spark nie die Spark Lite vervang nie. Dié voertuie is steeds verkrygbaar, hoewel dit hemelsbreed van die nuwe Spark verskil.

Die nuwe Spark se vernaamste mededinging sal nie soseer uit eie geledere kom nie, maar eerder van die Kia Picanto, Fiat Punto, Hyundai i10, Daihatsu Sirion, Toyota Yaris, Ford Figo en VW Vivo.

Wat lengte betref, pas die 3,64 m lange Spark omtrent in die middel van die hele klomp, net langer as die Sirion, net korter as die Yaris. Met ’n daklyn wat 1,522 m hoog staan, bied die nuwe Spark groot kajuitruimte, selfs vir passasiers wat agter moet sit.

Die model wat ons onder hande gehad het vir die toetsrit, was die Spark LS. Dit is teen
N$127 000 sowat N$10 000 duurder as die L-model. Deel van die verskil in die prys is dat die LS as bykomende kenmerke sluitweerremme het, die voorste ruite elektries kan afdraai en dat die voertuig ook toegerus is met allooivellings. Ander kenmerke soos lugsakke, sentrale sluiting, lugreëling en alarm en immobiliseerders is by albei modelle standaardtoerusting.


Die beter eienskap van die nuwe Spark is die feit dat dit deur ‘n ratser16 klep, 1.2 liter 4 silinder-enjin aangedryf word wat 60 kW krag en 108 Nm wringkrag uitstoot.

Dit is oorgenoeg vir ‘n gemaklike rit in stadsverkeer sowel as die oop pad. Ratskakeling is gemaklik, maar dis of die enjin effe aan die raserige kant is – grof. Aan die ander kant klink dit dalk meer sportief, veral as jy die toere bietjie deur die ratte opjaag.

Ons kon op die snelweg maklik binne die voorgeskrewe spoedperk van 120 km/h ry en toe ons lepel inlê, het die spoednaald tot verby die 160 km/h-merk gegly.

Kombineer dit met ’n redelik deeglike onderstel en motorbalans, en die Spark lewer verbasend goeie hantering.

Binne is daar ‘n paar pluspunte, maar die blink platiekstroke wat die vervaardiger as deel van die deurinlegsels en op die paneelbord aangebring het, doen afbreuk aan ‘n andersins uiters moderne uitleg en instrumentasie.
Soos byvoorbeeld die spoggerige idee om die digitale spoed- en toereteller in twee onafhanklike hulse op die stuurkolom aan te bring.

Buite is die Spark baie prominent met sy groot nuwe Chev-rooster wat in twee gedeel word, maar veral die oor-grootte kopligte val baie op.

Laasgenoemde strek nou van die buffer tot by die A-pilaar.

Wielboë word ook prominent geaksentueer, en die stert het ’n ekstra karakterlyn tussen die wielboog en die C-pilaar gekry.

As jy in ag neem dat Auas Motors ‘n 5 jaar/ 120 000 km fabriek- waarborg by die prys insluit, maak dit dat die nuwe Spark beslis op jou inkopielys moet kom wanneer in dié segment van die mark na ‘n voertuig gesoek word.