10.07.2008

Rekords spat tydens versnelrenne op Rehoboth


Bradley Ferreira
DIE naweek se versnelrenne van die Rehoboth Motorklub (RMK) wat as die “July drag wars” bekend is, het talle hoogtepunte opgelewer en heelwat van die klub se huishoudelike rekords het in die proses in die slag gebly. Volgens een van die organiseerders, mnr. Bradley Ferreira, was dit die grooste byeenkoms nóg wat hulle gehou het.

Meer as 2 500 toeskouers het opgedaag om die skouspel van krag en spoed gade te slaan. “Met grootste bedoel ek nie net wat toeskouergetalle betref nie, maar ook die hewige kompetisie tussen jaers tydens die byeenkoms.

Jaco Kotze in sy Auas Motors Chevrolet Lumina was weer die ster van die dag met die vinnigste tyd en spoed van die dag. Hy het ook ‘n paar rekords laat spat.
Ons Namibiese renjaers het die vier Suid-Afrikaners wat daar was, behoorlik beproef en die toeskouers beslis waarde vir hul geld gebied,” het hy verduidelik.

Die opsiener van die Namibië Motorsportfederasie (NMSF) wat die geleentheid bygewoon het, mnr. Geh Visagie, het die organiseerders gekomplimenteer met die wyse waarop hulle die renne aangebied het. Volgens hom is versnelrenne vinnig besig om as die grootste en gewildste vorm van motorsport in die land te ontwikkel.

Visser in sy Opel Kadett met ‘n superboss-enjin wat turbo-aangedrewe is (links), het sy vorige spoedrekord in sy klas gebreek toe hy teen 190km/h oor die wenstreep gaan.
Wat die renne self betref, was daar groot gewag gemaak van die Suid-Afrikaanse jaers wat vir die byeenkoms ingeskryf het. Twee van die voertuie moes egter vroeg weens ratkasprobleme onttrek. Die enigste deelnemer uit die buurland wat toe nog kon meeding, was die Nissan 1400-bakkie met turbo-aandrywing van Johan Roux.

“Die vinnigste tye vir motorkarre en motorfietse is onderskeidelik deur Jaco Kotze in sy Chev Lumina met ’n tyd van 12,78 sekondes en Richard Slammet met sy R1 Yamaha met ’n tyd van 10,28 sekondes aangeteken.

Richard Slammet op sy R1 Yamaha se tyd van 10.28 sekondes is ‘n nuwe rekord. Hy het ook die spoedrekord van 224km/h vir fietse wat deur Wyk de Jager opgestel is, geëwenaar.
“Baie rekords is ook Saterdag gebreek. Jaco Kotze het die staande baanrekord vir voertuie van 12,79 sekondes wat destyds nog deur Ahmed Hassan in sy Subaru opgestel is, gebreek toe hy in net 12,78 sekondes oor die wenstreep gejaag het.

Richard Slammet het sy vorige rekord van 10,44 sekondes tot 10,28 sekondes verbeter. Hy het ook die spoedrekord van Wyk de Jager van 224 kilometer per uur vir motorfietse oor 400 meter geëwenaar,” het mnr. Ferreira gesę.

Die Suid-Afrikaner Johan Roux het die A3-klas gewen is sy blitsige Nissan 1400-bakkie met ‘n turbo-aanjaer.
Die A3-klas vir voertuie het opwindende renne opgelewer met jaers soos Johan Burger (Nissan 1400 Turbo), Willem Visser (Opel Kadette Turbo), Johan Roux (Nissan 1400 Turbo) en Johan de Klerk (Corolla Turbo).

Die klas is gewen deur die Suid- Afrikaner, Johan Roux, maar Johan de Klerk van Windhoek was kort op sy hakke. Die borge vir die dag was FNB Rehoboth-tak en die Kalahari Sands Hotel en Casino wat die verblyf vir die Suid-Afrikaanse gaste geborg het.