Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

11.12.2009

Peugeot bied vragdraers soos min


Peugeot Expert

PEUGEOT se drie paneelwaens, die Partner, Expert en Boxer, bied vervoeroplossings van verskillende groottes vir sake-ondernemings en vlooteienaars. Daarbenewens is die Boxer in twee verskillende onderstel/kajuit- konfigurasies beskikbaar, sodat doelgeboude oplossings op ’n bewese platform geskep kan word.

Al Peugeot se paneelwaens verteenwoordig die samesmelting van slim, hedendaagse ontwerp met suinige en betroubare kragbronne, wat vir voertuie sorg wat nie net taakgeskik is nie, maar ook sonder ophou kan swoeg. Daarby bied die voertuie ’n stresvrye werksomgewing wat met die jongste veiligheidskenmerke toegerus is.

Peugeot Partner
Partner
 
Die Partner, wat effens meer as ’n jaar gelede plaaslik bekend gestel is, beïndruk reeds met sy bekostigbare, veilige en praktiese oplossings vir mobiliteitsbehoeftes – en dit in ’n uiters kompakte pakket. Sowat 1.5 miljoen Partners is reeds sedert 1996 wêreldwyd verkoop in ’n segment wat steeds groei.

Die Partner se enjinkeuses behels ’n HDI-turbodiesel van 1.6 liter en ’n 1600 cc-petroleenheid. Albei weergawes kan ’n vrag met ’n volume van tot 3.3 kubieke meter hanteer, terwyl hul vragdravermoë op 850 kg te staan kom. Dubbele lugsakke voor en ABSsluitweerremme plaas die Partner aan die voorpunt van veiligheid in dié segment.

Peugeot Partner
Expert
 
Om heeldag agter die stuur te wees van ’n paneelwa wat met ’n waardevolle vrag volgelaai is, kan vermoeiend wees. Dit is hoekom Peugeot vir Pininfarina gevra het om die ontwerp van die Expert te behartig. ’n Voorvereiste was dat bestuurderuitputting ondersoek moes word.

Onder die voertuig se sleutelkenmerke tel dus ’n stuurkolom wat vir hoogte en reikafstand verstelbaar is, ’n ratkierie wat in die middelkonsole gehuisves word en binne maklike bereik van die bestuurder is en ’n reusagtige voorruit met ’n glasoppervlak van 1.68 vierkante meter om ’n goeie oorsig oor die pad vorentoe te verseker. Die Expert kan onmiddellik uitgeken word, maar die stilering is nie net op opsigtelikheid gemik nie.

Die skerp gekantelde voorruit en noupassende kurwes sorg vir ’n besonder lugdinamiese vorm. Saam met Peugeot se doeltreffende HDI-turbodieselenjin van 2.0 liter sorg dit vir suinige brandstofverbruik en lae uitlaatgasvlakke.

Peugeot Boxer binne
Boxer
 
Die aankoms van die Boxer was die begin van Peugeot se aanslag op die plaaslike paneelwamark. Die Boxer is ’n voormalige Europese Paneelwa van die Jaar, en bly die spil waarom Peugeot se handelsvoertuigreeks wentel. Dit bied ’n keuse van twee asafstande, asook gewone en hoë dak-weergawes, met ’n totaal van vyf paneelwamodelle, asook onderstel/ kajuit-weergawes met kort- en lang asafstande.


Peugeot Boxer
HDI-turbodieselenjins van 2.2 en 3.0 liter onderskeidelik is beskikbaar. Die kleiner kragbron lewer 88 kW en 320 Nm, terwyl die drieliter-eenheid met ’n indrukwekkende 116 kW en 400 Nm wringkrag spog. Laaigerief is die kernkonsep in dié segment, en die Boxer bied ’n laairuim wat 1 870 mm wyd is, met ’n minimumwydte van 1 422 mm tussen die wielboë.

Die grootste Boxer-model kan ’n vrag van 15 kubieke meter met gemak insluk en het ’n vragdravermoë van 1 900 kg. Selfs die kleinste lid van die Boxer-familie het ’n vragruim van 10 vierkante meter, en ’n vragdravermoë van 1 400 kg. Hierdie model kan boonop deur ’n bestuurder met ’n gewone voertuiglisensie bestuur word.