11.07.2008

Opedag vir publiek

Pupkewitz Nissan


PUPKEWITZ Nissan Windhoek, wat vroeër die jaar Namibië se vlag hoog in Suid-Afrika laat wapper het met sy toekenning as die beste Nissan-handelaar in die kategorie vir groot handelaars in Suidelike Afrika, bied vandag en môre ’n opedag aan by hul moderne vertoonlokaal in Windhoek.

Die hoofbestuurder van die handelaarskap, mnr. Abie Blaauw, het vroeër aan Motortydskrif gesê hulle wil graag dat die algemene publiek na hul puik reeks nuwe voertuie kom kyk en terselfdertyd die geleentheid kry om dit te toetsbestuur. Die legendariese Suid-Afrikaanse tydrenkampioen, Hannes Grobler, is ook in Windhoek as ’n spesiale gas van die handelaarskap.

Die gesogte Nissan Qashqai gaan een van die voertuie wees wat die publiek van nader kan leer ken.
Sy voorbereide tydrenbakkie sal voor Nissan se gebou vertoon word waar hy ook persoonlik teenwoordig sal wees om enige vrae te antwoord. Terselfdertyd sal diegene wat môre se verrigtinge op die Tony Rust-renbaan bywoon, die geleentheid kry om die beeldskone Mej. Namibië, Marelize Robberts, in lewende lywe te sien.

Sy sal vir ’n wyle as gas van Pupkewitz Nissan daar wees. Die opedag, wat vanoggend 10:00 begin, is volgens mnr. Blaauw ’n geleentheid vir gesellige saamkuier. Afgesien van die toetsritte wat met Nissan se voertuie onderneem kan word, is daar heelwat ander interessante aktiwiteite soos ’n smeerdiensdemonstrasie, praatjies oor instandhoudingspraktyke en kleiner kompetisies waar pryse gewen kan word.

Die pragtige Mej. Namibië, Marelize Robberts, gaan môreoggend ’n gas van Pupkewitz Nissan wees wanneer Hannes Grobler sy passies in die Nissan Hardbody-veldrenmotor wys.
“Ons het nog ’n paar plekke beskikbaar vir gaste wat teen ’n donasie van N$1 200 vir ’n rit van vier kilometer saam met Hannes Grobler in sy tydrenbakkie kan kwalifiseer.

Die opbrengs hiervan gaan aan liefdadigheid geskenk word,” het mnr. Blaauw verduidelik.

Wat môre se verrigtinge tussen 10:00 tot 12:00 by die Tony Rustrenbaan betref, gaan Hannes Grobler sy vaardigheid agter die stuur van sy Nissan Hardbody wys.

Dit is dan ook hier waar spesiale gaste die geleentheid gaan kry om saam met hom te ry om eerstehands te ervaar hoe dit binne ’n tydrenmotor voel.