AUDI Centre in Windhoek het onlangs ‘n ope dag gehou om die splinternuwe Audi A4 amptelik aan die publiek bekend te stel. ‘n Groot aantal mense is na die geleentheid gelok waar heelwat entoesiaste geleentheid gekry het om die voertuie te toetsbestuur.
Motortydskrif kon self nog nie daarmee ry nie, maar soos wat van Audi verwag word, voldoen dié begeerlike voertuig op die oog af aan al die hoë verwagtinge wat daarvan gekoester word.
Die A4 wat kort op die hakke van die nuwe A5 koepee gevolg het en baie van dié voertuig se kenmerke met hom saamdra, bly die gewildste verkoper in die Audi-stal. Wat die modelreeks betref wat plaaslik beskikbaar gaan wees, is Audi se kleinste petrol- en dieselaangedrewe modelle met turbo-aanjaging die 1.8 TFSI en 2.0 TDI, die enigstes wat op die oomblik te koop is.
Later sal die modelreeks uitgebrei word met die 2.0 TFSI, ’n kragtiger 2.0 TDI en die 3.0 TDI quattro. Die top petrolmodel, die 3.2 FSI quattro met 195 kW waaroor almal opgewonde is, gaan binne die volgende paar weke in Windhoek land, terwyl die ander modelle blykbaar eers in Augustus beskikbaar sal wees. Die nuwe A4 is ‘n groot en ruim voertuig wat baie kenmerke met die A5 koepee deel. Dit is ook op laasgenoemde se onderstel gebou.
Die nuwe A4 bied aan kopers van die hoogste gehalte wat van ‘n vervaardiger verwag kan word. Ontwerpingenieurs het seker gemaak dat klankdemping van die beste is om ‘n stil en aangename rit te verseker. Soos gebruiklik, is die binnestilering smaakvol en onopgesmuk, dog stylvol en prakties.
Die sentrale konsole is meer na die kant van die bestuurder gedraai en die gladde metaalkleur afwerking om die inligtingstelsel, kan dalk by sommige kopers byval vind. ‘n Paar verskillende spesifikasievlakke vir albei modelle is opsies wat kopers kan uitoefen. Die normale S-Line met sportiewer stilering is ook vir die nuwe A4 ‘n keuse terwyl diegene wat ‘n meer sportiewe onderstel verkies, die sportpakket kan bestel.