Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

11.12.2009

Mazda se oopkap MX-5 word opgekikker



TWINTIG jaar nadat Mazda die eerste geslag MX-5 bekendgestel het, is die buks nou amptelik die wêreld se suksesvolste tweesitplekvoertuig. Pas is weer ’n varser weergawe van die voertuig bekendgestel. Interessant genoeg is die ikoniese MX-5 maar skaars in sy derde geslag hoewel hy al ’n hele paar ontrimpelings ondergaan het.

Die MX-5 spog nou met ’n neus wat meer in pas is met die res van Mazda se produkte. Die grootste verandering is aan die sierrooster wat vernuwe is en dit spog ook met ’n vyfpunt-rooster om meer soos die ander Mazdas te lyk. Aan die agterkant het die ontwerpers die lighulsels wyer laat uitstaan, terwyl die buffer agter ook wyer en laer gemaak is.

Mazda sê dis om aan die voertuig ’n stewiger voorkoms op die pad te gee. In sy jongste gedaante het die MX-5 ook ’n dakkie wat elektronies platvou, in teenstelling met die ou stelsel waar ’n mens dit met die hand moes platslaan. Die dakkie vou in drie dele inmekaar en die panele glip dan agter die rugleunings in ’n spesiale holte in sodat geen plek van die bagasieruim ingeboet word nie.

In die binneruim is ’n paar estetiese en praktiese veranderinge aangebring. By die deurpanele is die deur nou meer uitgehol sodat jy ekstra elmboogruimte het, terwyl die afwerking op die instrumentpaneel van ’n blink swart na ’n donker silwer verander is. Mazda sê dit bied aan die binneruim ’n luukser voorkoms. Wat die enjin betref, is die 2 liter viersilinder-kragbron steeds behou, maar die enjin kan hoër omwentelinge hanteer.

Voorheen is dit beperk tot 7 000 opm, maar die nuwe enjin tot 7 500 opm opgejaag kan word. Volgens die vervaardiger kon hy dit doen omdat die enjin nou onderdele van ’n beter gehalte gebruik wat hoër toleransievlakke het. Die enjin lewer ’n billike 118 kW en 188 Nm wringkrag.

Die sesgang-handratkas spog met ’n nuwe skakelaksie wat Mazda sê veel sagter en gladder as die ou stelsel is. Klein veranderinge is verder aan die kanalisering van lug onder die motor aangebring (daar is spesiale kanale onder die voorste buffer wat die lug in ’n bepaalde rigting druk) om die voertuig se brandstofverbruik te verbeter.

Mazda het ook heelwat moeite gedoen met klankvlakke in en om die motor. ’n Aanpassing by die uitlaatstelsel sorg dat daar nou ’n skerper klank te hoor is as jy voet in die hoek sit, terwyl ekstra dempmateriaal in die wielboë sorg dat minder padgeraas na die binneruim deurvloei.