HOEWEL Mahindra nog nie ‘n gevestigde naam as motorvervaardiger in Namibië is nie, is dit een van die grootste voertuigvervaardigers in Indië. Trouens, dit is die voorste vervaardiger van ontspanningsvoertuie en trekkers in die land met ’n groot teenwoordigheid in kernsegmente soos infrastruktuur, inligtingstegnologie en finansiële dienste.
Oor die afgelope paar jaar is Mahindra ook in Suid-Afrika gevestig, met ‘n volledige handelaarskap wat die afgelope meer as twee jaar in Windhoek sake doen. Toe die verkoopbestuurder van die onderneming in Windhoek, mnr. Cecil Koorts, ons ‘n tyd gelede nooi om vir ‘n paar dae met Mahindra se Scorpio GLX sportnutsvoertuig te ry, het ons die uitnodiging met gemengde gevoelens aanvaar.
Eerstens omdat die gedagte van Indiërs as voertuigvervaardigers nog nie heeltemal hier ingesink het nie en ook omdat ons ervaring van Mahindra so ver strek as ‘n minder aangename ervaring met die ouer Mahindra Jeeps wat in die vroeër 90’ers op die plaaslike mark beland het. Dit was regtig nie baie suksesvol as algemene rygoed of as werktuie vir die plaaslike polisie nie.
Die Mahindra Scorpio GLX SUV het met ons eerste kennismaking nie juis beïndruk nie. Die buitestilering is redelik robuust en kantig, maar as jy dit uit verskillende hoeke bekyk, is daar tog ook ‘n sweempie van elegansie en styl. Dié gewaarwording sou namate ons daarmee gery het al meer na vore tree, tot ons die voertuig weer moes afgee – en spyt was.
Die Scorpio het in die paar dae wat ons daarmee gery het, al dieper in ons hart gekruip en meer en meer vertroue ingeboesem. Die vooroordeel was na dié paar dae agter die stuur skoonveld en ons kyk nou met nuwe oë na Mahindra. Van agter is die agterligsamestelling indrukwekkend en voor is dit weer die sierrooster wat baie aggressief en prominent is. Hoewel die hoë daklyn nie heeltemal vleiend is nie, maak dit die voertuig binne heel ruim, met meer as genoeg kopspasie. Aan die binnekant van die Scorpio SUV is die stilering baie eenvoudig, maar alles wat nodig is, is daar.
Die middelste konsole op die paneelbord se harde plastiek is deur ‘n paar mense as “lelik” beskryf, maar myns insiens niks swakker of beter as die gemiddelde gehalte van moderne voertuie nie. Dit het my glad nie gepla nie. Die binneruim het oorgenoeg bergruimtes, en die ruim kajuit se standaardkenmerke sluit in kragstuur, lugversorging, elektries beheerde vensters, CD-speler en afstandbeheerde sentrale sluiting.
Wat opgeval het, was die twee opslaansitplekke in die agterste ruim wat die Scorpio dus ‘n sewesitplekker maak. Iets waarvan ek nie van die Scorpio hou nie, is die agterste deur wat na die kant oopmaak. Dit kan nogal hinderlik wees, veral as jy in spasies werk waar plek skraps is. ‘n Mens sou verkies dat die vervaardiger daaraan dink om eerder ‘n opklapdeur te maak, wat algemene praktyk by vervaardigers van sportnutsvoertuie is.
Wat die meeste van die Scorpio beïndruk het, was die sterk trekkrag van die 2.6 TD-enjin. Dié dieselenjin is met die wegtrek miskien bietjie turbo-traag, maar soos by ander diesels moet jy net jou bestuurstyl effe aanpas en dan loop alles vlot. Dit versnel gemaklik deur die vyfspoedratkas en op die oop pad kan ‘n goeie spoed met gemak gehandhaaf word. Effense bakrol is in winderige toestande ervaar, maar niks buitengewoon nie.
Die turbodiesel van 2.6-liter is toegerus met ’n tussenverkoeler en ontwerp om die beste brandstofdoeltreffendheid te lewer. Dié enjin is in samewerking met AVL van Oostenryk, wêreldleiers in enjintegnologie, ontwerp. Die kragbron lewer 81 kW krag teen 3 800 o.p.m. en ontwikkel ’n indrukwekkende 255 Nm wringkrag by net 1 800 o.p.m.
Dit is onder meer verantwoordelik vir die gemaklik wyse waarop die voertuig deur sy ratte versnel. Wat gepla het, was die reaksie wat ons gekry het wanneer die enjin koud was. Met die aansitslag, het die toetsvoertuig bondels rook deur die uitlaatstelsel uitgeblaas. Die wegtrek en skakeling tussen die eerste twee ratte was ook wankelrig, met steeds redelike rookdampe wat getrek het.
Soms moes ons die toere tot byna 3 000 o.p.m. opjaag voordat die turbo ingeskop het. Sodra die enjin sy regte temperatuur bereik het, het dit egter soos ‘n droom geloop. Die voertuig is gemaklik in stadsverkeer en daar is ook nie probleme as jy wil verbysteek nie. Iets wat opgeval het, was die stewige gevoel agter die stuur van die voertuig. Anders as met ‘n SUV uit die Chinese stal wat ons onlangs vir ‘n toetsperiode gehad het, was daar geen ratels of deure wat nie dig gesluit het nie.
Die Scorpio se algemene gevoel en padgedrag was bogemiddeld, veral as mens in ag neem wat dit kos teen Japanese teenstanders. Die 4x2- model waarmee ons gery het, kos net meer as N$191 000, terwyl die 4x4- weergawe N$227 000 kos. As dit in ag geneem word, kry mens met die Scorpio GLX beslis waarde vir geld.
Met ‘n besoek aan Mahindra Motors, het ons ‘n ouerige dame daar raakgeloop wat haar 2.5-turbo Bolero (die modelle wat soos ou Land Cruisers lyk) vir ‘n diens uit die Aranos-wêreld gebring het. “Waarom het u besluit om ‘n Mahindra te koop,” het ek haar gevra. Sy het verduidelik dat hulle in die Kalahari woon en gereeld dik sand en duine moet trotseer. Hulle moes die getroue Toyota Land Cruiser, wat binnekort op genadebrood moet gaan, met ‘n nuwe vervang.
“Ons het dusver nog net Land Cruisers op die plaas gebruik. Die Mahindra Bolero se prys, wat byna drie keer minder is, het ons aandag getrek en ons het besluit om een aan te skaf en te toets. “Dusver is dit uitstekend met algemene rywerk en trek dit ook sterker as die diesel Cruiser in die duine,” het sy verduidelik.
As die Bolero ook die moeilike plaaswerk kan baasraak wat dit eersdaags gaan doen, is dit die voertuie wat hulle voortaan gaan gebruik. Dié eerlike kommentaar van ‘n boervrou wys hoe geneig mense is om dit wat onbekend aan hulle is, te bevraagteken. Heeltemal reg, maar omdat prys deesdae so ‘n belangrike rol speel, sal mens moet besluit of jy bereid is om drie keer meer te betaal om dieselfde werk te doen.
My ervaring agter die stuur van die Scorpio GLX het my eie vooroordeel teen die Indiese voertuig verkeerd bewys. Uiteraard wil ek dit nie met enige van die erkende Japanese voertuie in dieselfde mark vergelyk, of hulle gelykstel nie, maar ‘n stylvolle, bekostigbare, gesinsgeöriënteerde sportnutsvoertuig is dié beslis. Vir die Indiese vervaardiger is die Scorpio GLX die simbool van sy droom om ‘n unieke nis vir Indiese motors regoor die wêreld te bewerkstellig. En te oordeel aan ons ervaring, mag Mahindra dit straks net regkry.