
Die eienaar van Ritter’s Toyota, mnr. Wolfie Ritter (links), ontvang sy stertoekenning van die uitvoerende president van BID, mnr. José Prieto.
VANJAAR is die sewende agtereenvolgende keer wat Ritter’s Toyota internasionale erkenning kry vir hoogstaande dienslewering en die toepassing van standaarde wat deur die voorste handelaars op internasionale vlak gehandhaaf word.
Vanjaar tydens die 36ste internasionale kwaliteitkonvensie in Frankfurt, Duitsland, is die diamant ster-toekenning vir gehalte deur Business Initiative Directions (BID) aan die besturende direkteur van Ritter’s, mnr. Wolfie Ritter, gemaak. Die toekenning word net oorhandig aan ondernemings wat in alle opsigte voldoen aan uiters streng voorwaardes van volgehoue goeie dienslewering, leierskap, tegnologie en vernuwing.
Ritter’s is een van die grootste en bes toegeruste Toyota handelaarskappe in die land en het oor die afgelope paar jaar miljoene dollar belê in funksionele geboue waaronder ‘n nuwe werkswinkel en vertoonlokaal tel asook gereedskap en rekenaarstelsels om ‘n wêreldklas diens aan klante te kan lewer.
Die prestige toekenningsgeleentheid in Frankfurt is deur verskeie maatskappye bygewoon wat uit 62 verskillende lande afkomstig is.
Ritter’s Toyota is al vir altesaam 82 jaar in die motorbedryf betrokke. Afgesien van die onderneming wat stewig in Windhoek gevestig is, beskik hulle ook oor ’n handelaarskap op Okahandja.
Die onderneming was een van net ‘n handjievol ontvangers van die internasionale ster-toekenning van al die maatskappye wat benoem is.
“Die maatskappye wat toekennings ontvang het, simboliseer toewyding tot leierskap, tegnologie en vernuwing wat van hulle modelle maak vir ander maatskappye in hul onderskeie sektore,” het die uitvoerende president van BID, mnr. José Prieto, by die geleentheid gesê.
Mnr. Ritter sê voordat hy destyds tot die internasionale liggaam toegelaat is, moes hy hom onomwonde verbind tot gehalte diens en om meer mededingend te word. Hy moes ook onderneem om ’n kultuur van gehalte diens onder werknemers, verskaffers en die gemeenskap te kweek. Dit het intussen tot ’n heel ander bestuurstruktuur, nuwe fasiliteite en beter dienslewering aanleiding gegee.
“Dis nie maklik om altyd aan die hoë standaarde te voldoen wat internasionaal as maatstaf gestel word nie, maar dit wys net dat dit tog haalbaar is met die nodige deursettingsvermoë en doelgerigte pogings om altyd te verbeter,” het hy gesê.