
Mnr. Casper Kruger
DIE nuut aangestelde adjunkpresident van Hino Suid-Afrika, mnr. Casper Kruger, sê dis bitter moeilik om die 2010-vragmotormark te voorspel. Hy sê die konserwatiewe benadering is dat die mark 4 tot 5 persent teenoor die 2009-syfer sal groei, wat op sowat 19 600 eenhede vir 2010 te staan kom.
Hy sê ’n onverwagte groot vraag wat deur vervoervereistes vir Wêreldbekersokkerverwante bedrywighede kan ontstaan, kan hierdie syfer aansienlik skeeftrek en tot ’n groeisyfer van tot 20 persent lei.
Hy sê ook die verknorsing waarin vervaardigers se verspreiders sit, is of hulle bykomende voorraad in die hoop op ’n moontlike styging in die eerste en tweede kwartale van die jaar moet bestel of nie, maar hy glo betekenisvolle langtermyngroei in die plaaslike mark sal eers van 2013 af begin.
Kruger, wat die stuur in Mei 2009 ná die aftrede van mnr. Piet van Wyk de Vries by Hino SA oorgeneem het, is sedertdien bevorder van hoofbestuurder tot adjunkpresident van die afdeling wat voorheen as Toyota SA Vragmotors sake gedoen het.
Hy het op ’n mediakonferensie gesê hy is tevrede dat die oorskakeling na ’n alleenstaande Hino-handelaarskap naatloos verloop het, hoewel dit langer geneem het as wat oorspronklik verwag is omdat baie van die 53 handelaarskappe se geriewe opgegradeer is of nuwe geriewe vir hulle opgerig is. Hy het gesê die strukturering van die toegewyde Hino-vragmotornetwerk is vir alle praktiese doeleindes afgehandel, en nog net een of twee gapings moet gevul word.
“Wat belangrik is, is dat ons binne die perke van ons tydsverloop is en ’n aantal doelwitte gestel het om ons posisie as ’n toegewyde vragmotorbemarker en -verspreider sonder ooglopende skakels met die Toyota- passasiersmotor - en ligte handelsvoertuigafdelings te versterk. Ek moet dit beklemtoon dat ons op hierdie gebied uitmuntende steun geniet het van Hino Motors van Japan en sy spanlede wat in Suid-Afrika werk,” het die nuwe Hinogrootbaas vir Suid- Afrika gesê.
“Nou dat ons deur die tydperk is waar ons tandekryprobleme verwag het wat toe nooit voorgekom het nie, kan ons begin om ons gefokusde werksaamhede te konsolideer.
“Ek is iemand wat in persoonlike kontak met die Hino-handelaars en hul klante glo ten einde enige dringende kwessies op te los en saam met hulle te werk om enige moontlike probleme op te los. Ek besef dat hierdie regstreekse benadering soms nie deur alle handelaars in die korttermyn waardeer word nie, maar hopelik begin hulle nou besef dat my inmenging daarop gemik is om almal wat by die Hino-onderneming betrokke is, te bevoordeel.
“Meer as 40 persent van ons huidige verkope is aan lojale, strategiese vlote en ek wil die presentasie verder uitbrei aangesien dit hoofsaaklik vervangingsverkope is,” het mnr. Kruger gesê.