22.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

2.02.2012

Omvattende nuwe vervoerplan vir hoofstad

Windhoek se bevolking wat jaarliks met rasse skrede toeneem, plaas groot druk op die hoofstad se bestaande vervoerstelsels. Om die uitdaging die hoof te bied, het die Ministerie van Werke en Vervoer in samewerking met die munisipaliteit begin met ’n konsultasieproses wat op die ontwikkeling van ’n volhoubare stedelike meesterplan vir vervoer in die stad gemik is.



DIE stad se huidige infrastruktuur laat min tot geen plek vir voetgangers en is oorwegend op motoriste gerig. Weinig geriewe vir openbare vervoer soos busse asook fietse en wandellane vir voetgangers bestaan.

Volgens die Ministerie van Werke en Vervoer se direkteur vir vervoerbeleid en -regulering, me. Angelina Simana-Paulo, het die hoofstad die afgelope paar jaar ’n toenemende aantal taxi’s beleef wat nuwe geriewe deel en in die meeste gevalle passasiers op- en aflaai waar dit nie veilig is nie.

Die groeiende aantal taxi’s dra by tot ’n styging in die motorbevolking wat volgens die vervoergebruiksplan van 2004 op ’n styging van 2,7 persent per jaar dui. “Beplanning vir nie-motoraangedrewe vervoer is nog ’n aspek wat nie in die hoofstad plaasgevind het nie en veral voetgangers en fietsryers verplig om hul ruimte met motoriste te deel en sodoende hul lewens op die spel te plaas.” Volgens Simana-Paulo het die afwesigheid van beplanning in dié verband gelei tot die afwesigheid van toegang tot vervoer vir alle inwoners. “Dit het geweldige uitdagings waaronder verkeersopeenhopings, besoedeling, klimaatverandering, stygende koste en ’n gebrek aan veiligheid veroorsaak.”

Volgens die direkteur is dit juis om hierdie redes dat die Windhoekse munisipaliteit en die Ministerie met die hulp van die Duitse regering se implementeringsagentskap Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) besluit het om die hoofstad se vervoerprobleme daadwerklik aan te roer.

Dit sal ’n omvattende ontleding van die huidige situasie sowel as voorstelle vir ’n veiliger, meer doeltreffende openbare en niemotoraangedrewe vervoerstelsel insluit. Die projek, Volhoubare Stedelike Vervoermeesterplan vir Windhoek, sal na verwagting ’n meesterplan vir ’n geïntegreerde stedelike mobiliteitstelsel voorsien wat toekomstige vervoerbehoeftes sal aanroer in teenstelling met die huidige tradisionele vervoeroplossings wat op motors konsentreer.

Die vervoerstelsel vir die toekoms sluit in goedbeplande bus- en fietsrybane sowel as veilige lane vir voetgangers. Clarence Rupingena, bestuurder van openbare vervoer by die Windhoekse munisipaliteit, het intussen beklemtoon dat die toekomstige vervoerstelsel gebruikers verskeie keuses moet kan bied en ’n vrye keuse tussen verskillende vervoermoontlikhede toelaat. “Hoewel die gebied van studie verwys na Windhoek, word voorgestel dat dit pendelaarverkeer van die naburige dorpe soos Okahandja, Rehoboth en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako insluit.”

Dieselfde formaat sal later as ’n nasionale strategie toegepas, gedupliseer en vir verskeie dorpe in die land aangepas word. Instellings wat deelgeneem het, sluit in die polisie, die Namibiese Bus- en Taxivereniging, Paaieowerheid, Walvisbaai Korridorgroep, TransNamib, Nasionale Padveiligheidsraad, Motorvoertuigongelukfonds, Namibiese Lughawensmaatskappy, Okahandja-dorpsraad, Namibiese Toerismeraad, Namibia Cargo Bicycle, Windhoek Pedal Power asook lede van die publiek met belange in die stedelike vervoerwese.

Die Ministerie van Werke en Vervoer en die Windhoekse munisipaliteit gaan intussen met ondersteuning van GIZ nog aandeelhouersvergaderings in die komende weke hou. Die Ministerie en die munisipaliteit het voorts ’n beroep op alle belanghebbendes gedoen om ’n bydrae tot die deelnemende proses te lewer. Vir bydraes en verdere inligting kan die openbare vervoerbestuurder by die munisipaliteit, Clarence Rupingena, by (061) 290 2505 of e-pos cru@windhoekcc.org.na gekontak word.