22.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

11.12.2009

Hover tref mark met dieselenjin



GREAT Wall Motors (GWM) het pas weer met ’n nuwe troefkaart na vore gekom met die bekendstelling van sy eerste sportnutsvoertuig (SNV) in Namibië wat met ’n dieselenjin toegerus is. Hoewel die GWM Hover al geruime tyd teen ’n bekostigbare prys in die mark beskikbaar is, is die nuweling met ’n nuwe 2.5 liter dieselenjin toegerus wat van ’n turbo-aanjaer en tussenverkoeler voorsien is.

Selfs die 2.4 4GS69 petrolenjin wat dusver die enigste kragbron was, is nou opgegradeer om ’n gladder en gemakliker rit te verseker. Dusver was die Hover gewild by kopers, ten spyte van die feit dat die 2.4 petrolenjin maar flouerig is. Met die opgradering daarvan en die feit dat kopers ook nou ’n keuse van ’n dieselenjin het, is die voorspelling dat die verkope van die voertuie beslis sal toeneem.

Die besturende direkteur van GWM in Suid-Afrika, mnr. Henri Meistre, sê hulle het met groot afwagting na die bekendstelling van die 2.5 liter diesel uitgesien omdat so baie kopers daaroor navraag gedoen het. “Die enjin stoot ’n goeie 300 Nm wringkrag uit en is ontwerp vir veldry en gewone ontspanningsdoeleindes. Beskikbaar as 4x2- of 4x4-modelle, bied die enjin met sy turbo en tussenverkoeler genoeg krag om seker te maak dat jy gemaklik kan ry in enige omstandigheid ongeag die terrein of aanwending,” het hy met die bekendstelling gesê.

Die handelaarshoof van GWM Pupkewitz, mnr. Uwe Kessler, is self ingenome met die nuweling en het die Hover met sy dieselenjin met groot vertroue ook vir ’n paar dae aan ons vir toetsdoeleindes beskikbaar gestel. Dit was die derde model waarmee ons gery het en die enjinkrag maak ’n groot verskil in vergelyking met die petrolmodelle.

Wat stilering, afwerking, kenmerke en algemene padgedrag betref, is dit presies dieselfde as al die ander modelle wat aangebied word. Soos reeds voorheen gemeld, is daar aan die afwerking en afronding egter klein irritasies wat met geringe verstellings reggestel kan word om die Hover ’n veel beter opsie te maak.

Kom ons handel dit eers af voordat ons na die beter eienskappe verskuif. Die Hover is in alle gevalle ’n baie gemaklike ryding met al die luukses wat jy in ’n moderne SNV verwag. Klein dingetjies soos byvoorbeeld die buitespieëls wat vibreer (skud, waai) as mens teen gewone spoed (120 km/h) op die oop pad ry, die twee luginlate weerskante van die paneelbord wat nie behoorlik geïnstalleer is en nie hul posisies behou waar mens dit stel nie en ook die ruite en deure wat nie by een van die voertuie dig genoeg gesluit het om windgeraas redelik uit te hou nie.

So ook die ratkasskakeling wat grof is en die ratkierie wat myns insiens ook te lank is. Nou by die meer aangename dinge. Sedert die Pupkewitz-groep meer as twee jaar gelede begin het om voertuie van die Chinese vervaardiger in die land te bemark, het dit reeds ’n stewige vastrapplek in die Namibiese mark gekry.

Die algemene gehalte van die voertuie, die pryse waarteen dit aangeskaf kan word en die rugsteun van die Pupkewitzgroep wat die grootste handelaarsnetwerk vir nuwe voertuie in die land het, is blykbaar verantwoordelik dat die Chinese vervaardiger soveel ondersteuning in Namibië kry.

Die luukse SNV wat met twee- en vierwielaandrywing beskikbaar is, vang die oog met sy modern baklyne en hoë profiel. Die toetsvoertuig wat mnr. Kessler aan ons beskikbaar gestel het, was ’n 4x2-model met die nuwe sterk dieselenjin. Die 2.5 liter enjin lewer ’n maksimum krag van 80 kW by 3 600 opm met ’n goeie wringkragkurwe van 300 Nm wat reeds by 1 800 opm beskikbaar is. Soos by alle moderne dieselenjins, maak die vervaardigers ook gebruik van die drukbuistegnologie (“common rail”) brandstofinspuiting.

Tydens ons toetsperiode het die voertuig soos meeste dieselmodelle in die klas, ook ’n turbotraagheid openbaar totdat die kragkurwe van die turbo op sowat 1 800 opm bereik word. Met geringe aanpassings in jou bestuurstyl, kan die probleempie vinnig oorkom word. Ons het geleer om effens meer brandstof te gee met die wegtrekslag en siedaar, geen probleem met turbotraagheid nie. Verder verskaf die dieselenjin gemaklik trekkrag deur die ratte en versnel vinnig tot by 150 km/h.

Dit is net wanneer toere onder 1 800 opm is wat die krag onvoldoende is, maar soos gesê, jy moet net jou rystyl aanpas en sal dan nie probleme daarmee hê nie. Trouens, ons het ’n paar weke gelede met ’n soortgelyke ryding gery wat byna twee keer duurder is as die Hover, en dié het presies dieselfde kwaal gehad. Gepraat van prys.

Die toetsmodel was ’n 4x2 en met die dieselenjin sal jy N$259 900 moet uithaal as jy dit joune wil maak. As jy meer avontuurlustig is en die 4x4-model verkies, sal jy bereid moet wees om N$274 500 op te dok. Dis nog steeds sowat N$80 000 goedkoper as soortgelyke modelle van ander vervaardigers. Vir dié prys kry jy heelwat kar.

Dit beskik oor ’n heel moderne bakstyl en die 17” allooivellings en die parkeersensors in die agterste buffer maak onmiddellik indruk. Ditto vir die binnekant met sy leerbekleedsel (‘n tipe kunsleer wat as “leatherette” beskryf word) op die sitplekke, netjiese instrumentasie met ’n blou skynsel as dit aangeskakel word, leeroorgetrekte stuurwiel, elektriese verstelling van albei voorste sitplekke, lugsakke en radio/CD-speler met agt luidsprekers.

Met sy moderne ontwerp buite en elegansie binne, bied die Hover ook ’n robuuste leerraamonderstel met onafhanklike voorvering en kronkelvere met ’n veelskakelpunt agter vir bykomende stabiliteit. Die vervaardiger het ook seker gemaak dat dit nie afgeskeep word wat veiligheidseienskappe betref nie en van die mees gevorderde sluitweerremme (ABS) en elektronies beheerde remkragverspreiding is deel van die Hover se pakket. Twee lugsakke voor rond die prentjie af.

Ander luukse eienskappe soos elektriese ruite en spieëls, ’n USB-sok as deel van die radio/CD-speler maak ook deel van die standaard kenmerke van die voertuig uit. Met ons vorige kennismaking met die Hover, was algemene padgedrag van die voertuig heel aanvaarbaar en het dit goed gevaar op die pad. Wat die petrolenjin van 2.4 liter betref, maak GWM gebruik van Mitsubishi-tegnologie.

Die 4G64-enjin is egter nou opgegradeer van 93 kW krag en 195 Nm wringkrag na 100 kW en 200 Nm wringkrag. Die enjin is bekend vir sy taaiheid en betroubaarheid. Die petrolmodelle kos N$207 000 vir die 4x2 en N$224 000 vir die 4x4. Gaan maak ’n draai by GWM Pupkewitz en gaan toetsbestuur die verskillende modelle. Jy mag net verras wees met wat jy gaan ervaar.