15.02.2012 Avanza-paneelwa – reg vir werk
AL die styl, gemak en gehalte van ’n veeldoelvoertuig; al die gerief en gehardheid van ’n topklas-handelsvoertuig – dít is die nuwe Toyota Avanzapaneelwa, die perfekte voertuig vir klein tot middelgrootte ondernemings wat die mensdraer-modelle wat Toyota onlangs bekendgestel het, aanvul.
Die paneelwa het munt geslaan uit dieselfde ontwerp en ingenieursveranderinge as dié wat pas aan die res van die Anvanza-reeks gegee is: ’n splinternuwe buitekant, nuwe binneruim-stilering, ’n groter kajuit (wat tot ’n aansienlik groter bagasieruim gelei het), gemak- en veiligheidsverbeterings, enjinverfynings en groot veringverbeterings is maar net van die nuwighede.
Volgens Calvyn Hamman, senior adjunkpresident van verkope en bemarking: “Die Avanza-paneelwa is binne sowel as buite klinkklare bewys dat ’n voertuig nie alledaags hoef te lyk net omdat dit ’n werkvoertuig is nie. Trouens, dit is gewis ’n geval van gemaak vir die taak – dís hoe goed die Avanza-paneelwa vir sy uiteindelike lewensdoel gemaak is.”
Die groter vragruim is pasgemaak vir praktiese gebruik:
• die bagasieruim het ’n lae drumpel en groot opening wat laaiwerk vergemaklik;
• die bodem is plat met min binnedringing en met duursame viniel bedek;
• dravermoë van 500 kg wat dit die ideale voertuig vir klein tot medium grootte ondernemings maak;
• ingeslote vragruim-net om vrag veilig op sy plek te hou;
• agterdeure om maklik by die vrag uit te kom, maar die vensters (wat elektries beheer word) is donker gemaak om diefstal te verhinder.
Iets waarvan ’n mens gewis kennis moet neem, is dat die Avanzapaneelwa nie net iets prakties is nie; hy omring die bestuurder ook met ’n oorvloed hoëtegnologiese geriefskenmerke soos elektriese kragstuur (EPS), dubbele lugsakke voor, alarm/ immobiliseerder, ABS, afstand beheerde sentrale sluiting en elektries beheerde vensters (voor en agter).
Die nuwe Avanza se splinternuwe herontwerpte veerstelsel bestaan uit ’n McPherson-stuttipe vering voor en ’n 5-skakeltipe agtervering (4-skakelkoppeling met dwarsbeheerstaaf) en kronkelvere, terwyl die eienskappe van die skokbrekers en vere vervolmaak is om ’n gerieflike rit te bied sonder om dravermoë prys te gee.
Sommige handelsvoertuig-verkoopseienskappe wat uniek aan die Avanza-paneelwa is:
• In teenstelling met die draaisirkel van 5 m of meer van die Avanza se mededingers met hul FF-uitleg (voorgemonteerde enjin met voorwielaandrywing) behels die Avanza se FR (voorgemonteerde enjin met agterwielaandrywing) ’n groot stuurhoek wat skitterende maneuvrering in smal strate moontlik maak.
• Die Avanaza-paneelwa benut die positiewe eienskappe van die FRuitleg vir die beste grondvryhoogte (200mm) in sy klas (oorgedra van die vorige model).
• Skitterende klouvermoë word danksy die FR-uitleg na die dryfwiele gestuur, wat goeie rybaarheid verseker wanneer die voertuig met ’n vol vrag teen ’n steil opdraande wegtrek.
Die nuwe Avanza-paneelwa word deur ’n verbeterde weergawe van die bekende en duursame K3-VE-enjin van 1,3 liter met VVT-i (veranderlike kleptydreëling) aangedryf. Die nuwe model se gewigsvermindering van nagenoeg 20 kg sorg vir beter versnelling, remverrigting en brandstofekonomie.
Van die nuweling se kernsyfers is ’n gemiddelde verbruik van net 7,7 ℓ/100km in die gekombineerde siklus, en ’n versneltyd van 11,9 sekondes vir die verpligte 0-100km/hnaellopie. Die nuwe Avanza-paneelwa het ’n vyfgang-handratkas as deel van sy standaard-toerusting. Woorde en foto: quickpic.co.za
|