Wicomb begrawe, man vermis

Die vermoorde me. Constance Wicomb wie se uitgebrande lyk onlangs naby haar huis in Khomasdal gevind is, se man het spoorloos verdwyn.
Die inligting het gister bekend geword toe inligting oor haar begrafnis wat die naweek op Swakopmund plaasvind, gekry is.
Mnr. Michael Wicomb is glo sedert hy op Saterdag 22 Junie deur die polisie ondervra is, nêrens te vinde nie. Sy selfoon is in die polisie se besit, maar dit is afgeskakel. Hy is glo nie 'n verdagte in haar moord nie.
Gerugte het gister die ronde gedoen dat hy homself aan die polisie oorgegee het, maar die polisie se woordvoerder, insp. Kauna Shikwambi, het dit as onwaar afgemaak. Volgens haar is daar nog geen beduidende vordering met die ondersoek gemaak nie. Sy het in 'n vorige gesprek bevestig dat die polisie geen verdagtes het nie, en dat dit mnr. Wicomb insluit.
Wicomb het Woensdag 19 Junie Republikein se kantore besoek en vir hulp met die opsporing van sy vrou gevra nadat sy sedert Donderdag 13 Junie vermis was. Sy sou blykbaar daardie oggend met 'n taxi na haar werk gery het, maar ná sy hul huis in Khomasdal verlaat het, is sy nie weer gesien nie.
Op Saterdag 22 Junie het die polisie 'n verbrande lyk in die veld enkele meter agter hul huis gevind.
Constance se pa, mnr. Patrick Adams het gister gesê: "Ons sterk nog aan." Hy was besig om haar begrafnisreëlings te tref.
Die voorlopige beplanning is dat 'n roudiens Vrydag om 19:00 by hul huis te Schwester Friedastraat 20 in Vineta sal plaasvind. Saterdag om 08:00 sal die begrafnisstoet van die huis beweeg en om 09:00 sal die diens in die Tamariskia-gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk se kerkgebou gehou word.

Kategorie: