Duisende dollar se dagga in //Karas gevind

Die polisie op Keetmanshoop het verlede Sondag 'n 33-jarige man, Vilho Nghuukungumo Heita, in hegtenis geneem nadat hy 277 kg dagga probeer weggooi het.
Dié Namibiese burger was besig om die dwelms in 'n vragmotor vanaf Ariamsvlei te vervoer toe die polisie hom ongeveer 30 km voor Karasburg voorgekeur het.
Die hoof van die polisie in die //Karasstreek, komm. Armas Shivute, het Woensdag aan Nampa gesê dat hy die dagga ter waarde van N$830 000 in tien dromme gelaai het.
“Hy het die polisie probeer ontduik deur die dwelms onder 'n brug af te laai nadat hy uitgevind het ons is op sy spoor, maar hy was in die proses gevang, ” het Shivute gesê.
Die polisiehoof het die geleentheid gebruik om lede van die publiek te bedank wat die polisie van dwelmsmouse laat weet wat dan tot hul inhegtenisneming lei.
“Ons is sover baie suksesvol om dwelmsmokkelaars vanaf Suid-Afrika te vang en ons eweknieë van dié land het ons reeds vir ons goeie werk geloof,” het Shivute gesê en bygevoeg dat die geveg teen dwelmverspreiding en -handelaars 'n “daaglikse stryd” is.
“Ons konfiskeer omtrent elke dag dwelms, maar dit is gewoonlik kleiner hoeveelhede in vergelyking met dit wat ons Sondag gekry het.”
Heita het Woensdag in die landdroshof op Karasburg verskyn en die saak is tot 21 Oktober uitgestel.
Woensdag het die polisie op Lüderitz ook 'n 27-jarige man, Julius Macharty Swello, met 15 mandraxpille gevang. Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in //Karas, adj.komm. Rudolf Isaak, is die dwelms ongeveer N$700 werd en was dit by die verdagte se huis gevind.
Swello het gister in die hof verskyn, maar teen druktyd was dit nog onbekend wat die uitslag was.

Kategorie: