'Ek is g'n illuminati' – Willie Swartz

Catherine Sasman - Willie Swartz, leier in die Swapo jeugliga en menslike hulpbronbestuurder aan die dorpsraad van Rehoboth, dreig om regstappe te neem teen Google en die dagblad The Namibian oor 'n foto van hom wat op een of ander onverklaarbare manier op 'n webblad genaamd 'illuminati in Namibia' verskyn.
Swartz se foto was geheg aan 'n storie wat op The Namibian se webtuiste op 17 Januarie verskyn het. Dieselfde foto is ook later deur die koerant gebruik met 'n storie oor konflik in Swapo se jeuggeledere.
Swartz sê 'n vriend wat ondersoek op die internet gedoen het oor Namibiese illuminati's, het hom aanvanklik vertel dat sy foto op die omdstrede webblad verskyn het.
Hy sê hy word nou as 'n lid van die illuminati uitgebeeld, of dat ten minste die indruk geskep word dat hy 'n lid van die obskure groep is.
Wikipedia beskryf die illuminati (van die Latynse woord 'verligte') as 'n geheime organisasie wat in 1776 gestig was om onder meer bygelowe, diskriminasie en die invloed van godsdiens oor openbare sake teen te werk.
Deesdae word die sogenaamde illuminati geassosieer met sameswerings om wêreldbeleid te beïnvloed deur georkestreerde gebeure en “geplante” agendas.
Swartz sê die storie oor sy beweerde betrokkenheid by die groep doen op Rehoboth die rondte en dat hy en sy familie aan toenemende lasterlike opmerkings blootgestel word.
My kinders word op skool gesê dat ek 'n satanis of die duiwel is. In vergaderings verwys my politieke teenstanders na my as 'n satanis en die kerk wat ek bywoon word as gevolg daarvan gediskrediteer, het Swartz aan The Namibian geskryf.
Swartz sê The Namibian het ter verduideliking aangedui dat die toevallige 'ill' letters in sy naam en die eerste drie letters van die woord 'illuminati' moontlik die oorsaak van die verwarring kan wees.
Die koerant het blykbaar ook byna 'n maand gelede belowe om Google te kontak sodat sy foto van die illuminati webblad afgehaal te word.
“Ek is 'n gelowige mens, het Swartz dié week aan Republikein gesê. “Ek het ook die redelike verwagting dat die koerant my persoonlike integriteit sal beskerm.”
Die redaksiebestuurder van The Namibian, Christof Maletzky, het gister gesê die koerant het wel 'n ondersoek geloods, maar bevind dat die genoemde webblad “gesigloos” is. Hy was nie bewus van die belofte wat die koerant glo aan Swartz gemaak het om Google te kontak om sy foto daarvan te verwyder nie.
“Selfs al haal ons die foto van ons webtuiste af, sal dit nog altyd op Google wees. Dit is nie iets waaroor ons beheer het nie. Dit het nou niks met die koerant te make nie,” het Maletzky bygevoeg.

Kategorie: 

Facebook kommentaar