Minderjarige meisies as huishulpe gebruik

Henriette Lamprecht - Vier San-kinders uit die Omega-omgewing in die Okavango-Oosstreek wat sedert die begin van die jaar vermis was, is gevind. Die vier meisies is met beloftes van werk van hul ouerhuise weggelok en is deur die ministerie van arbeid en maatskaplike diens in onder meer Katima Mulilo en Windhoek opgespoor.
Die ministerie het by monde van die adjunkdirekteur van die arbeidsinspektoraat, dr. Felix Musukubili, gesê die meisies is deur ’n skoolmatrone vir potensiële werkgewers in die hoofstad gewerf. Die meisies was onder­skeidelik in graad 4 en 6 by die Primêre Skool Omega.
Volgens Musukubili het twee van hulle aan die inspektoraat gesê hulle het die geleentheid gehad om hul ouers van die werk in Windhoek te vertel, terwyl die ander twee net verdwyn het.
Volgens voorlopige inligting is hulle per bus na die hoofstad, waar hulle opgetel en na hul werkgewers gebring is. Die twee San-meisies wat in Windhoek opgespoor is, het as huishulpe in Windhoek-Wes en Khomasdal vir tussen N$300 en N$500 per maand gewerk.
Nog ’n meisie is na ’n nedersetting in die Zambezistreek gestuur om vir ’n gesin te werk. Die vierde meisie het weggeloop van die huis waar sy moes werk en is reeds terug by haar ouerhuis.
Die twee in Windhoek is tans in ’n plek van veiligheid totdat hulle weer met hul ouers herenig sal word. Die San-meisie wat in Katima Mulilo by ’n gesin moes werk, sou gister deur die inspektoraat en maatskaplike werkers van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn verwyder word.
Volgens Musukubili beskerm die Namibiese grondwet kinders teen ekonomiese uitbuiting en enige indiensneming wat moontlik gevaarlik is, met hul opvoeding inmeng of nadelig vir hul gesondheid, fisiese, geestelike en sosiale ontwikkeling is.
Hy het die verskil tussen kinderarbeid en kinderwerk beklemtoon en gesê laasgenoemde hou verband met huishoudelike take wat redelik is en van kinders verwag word as deel van hul verantwoordelikhede in ’n gesin.
Met verwysing na kinderarbeid het Namibië twee verwante konvensies van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) vir kinderarbeid onderteken, terwyl die Grondwet, Minimum Ouderdomkonvensie en die arbeidswet ouderdomsbeperkings vir die doel van werkskepping plaas.
Geen kind onder die ouderdom van 14 jaar mag vir enige doel in diens geneem word nie, terwyl dié jonger as 16 jaar nie by enige werkverwante aktiwiteite betrokke mag wees wat ’n gevaar vir die kind se gesondheid, veiligheid of fisiese en sosiale ontwikkeling inhou nie.
“Die minister mag die indiensneming van kinders tussen 14 en 18 toelaat, afhangend van die toestande waarin hulle gaan werk en deur sekere voorwaardes en beperkings te stel om te verseker dat dit nie skadelik is nie.”
Kinders onder 18 mag ook nie tussen 20:00 en 07:00 werk nie.
Volgens Musukubili het die arbeidsinspektoraat al sake ondersoek waar kinders onder meer in die landbousektor en as huishulpe werk, gebruik word om misdade soos huisinbrake te pleeg, kommersieel en seksueel uitgebuit word en betrokke is by die konstruksie van en verkope in sjebeens en ook die gevaarlike produksie van steenkool.
Werkgewers wat kinders in diens neem, staar ’n boete van N$20 000 of tronkstraf van vier jaar in die gesig. Enige persoon wat bewus is van kinders wat vir arbeid gebruik word, kan die ministerie se tolvrye 116-hulplyn skakel.

Kategorie: