Twyfelfontein – Following in the footsteps


Twyfelfontein – Following in the footsteps vertel verhale en mites van die antieke mens, seldsame en wêreldbekende rotskuns en uitmuntende kamerawerk in die noordwestelike hoek van Namibië. Dit vat reisigers op ‘n tog deur Damaraland en lei hulle al met die D2612 na die rooi sandsteenberg na die rotstekeninge wat meer as 2 000 jaar oud is. Benewens elke kronkel en elke klip van Twyfelfontein wat beskryf word, kan kykers ook sien watter ander besienswaardighede in die omgewing is. Dié dokumentêr is knap onder die 60 minute lank en kan ook in vier verskillende klankbane – Engels, Frans, Spaans en Duits – gekyk word.
Wêrelderfenisterrein op DVD verewig.

VERHALE en mites van die antieke mens, seldsame en wêreldbekende rotskuns en uitmuntende kamerawerk in die noordwestelike hoek van Namibië is saamgesnoer om ’n uitsonderlike dokumentêr oor Namibië se eerste Wêrelderfenisterrein te maak.

Twyfelfontein – following in the footsteps vat reisigers op ’n tog deur Damaraland en lei hulle al met die D2612 na die rooi sandsteenberg.
Navorsers het Twyfelfontein deur die jare in groot getalle besoek. Reeds in 1921 is die eerste rotskuns opgeteken. In die 1940’s het die Franse prehistorikus, Henri Breuil, internasionale status aan die terrein gegee. Die terrein is in 1952 as ’n nasionale monument verklaar.

Maar wat presies is dit wat Twyfelfontein so spesiaal en veral gesog onder toeriste maak? Die dokumentêr beantwoord al dié vrae. Navorsing wat deur die jare bymekaar gemaak is, word op ’n noukeurige wyse in die storie ingeweef.

In ’n diep stem beskryf Richard Ntabanango, die verteller, die intriges van die rotskuns, teorieë van hoe dit gevorm het en hoe oud dit is. Navorsers reken dat die tekeninge tot 2 000 jaar oud kan wees, terwyl van die tekeninge maar ’n skrale 200 jaar gelede in die klip ingeëts is.

Bykans al die tekeninge wat op die berg gesien kan word, word in detail op die DVD beskryf. Die twee verskillende roetes waar voetslaners die pad kan vat – die Dansende koedoe-roete en die Leeuman-roete – word ook bespreek en dien as treffende lusmaker vir kykers om die tekeninge self te gaan ontdek.

Een van die eerste kykers van die DVD, dr. Kalumbi Shangula, permanente sekrateris van die Ministerie van die Omgewing en Toerisme, is vol lof oor die DVD. “Dit is ’n puik stuk werk. Namibië het produkte van dié aard en gehalte nodig om die land doeltreffend as toerismebestemming te bemark. Veral in die buiteland. Veels geluk.... dis uitsonderlik,” het hy gesê kort na hy die DVD verlede Maandag gekyk het.

Benewens elke kronkel en elke klip van Twyfelfontein wat beskryf word, kan kykers ook sien watter ander besienswaardighede in die omgewing is.
Skaars ’n klipgooi van Twyfelfontein af is die Verbrande Berg en die Orrelpype. In die omgewing van Khorixas is daar die Versteende Woud. Ook die bekende welwitschias en die berugte woestynolifante kom in die omgewing voor.

Klank, redigering en die draaiboek is deur Gene Carstens voorgehou, terwyl Willem Barnard die kamerawerk gedoen het. Die uitvoerende vervaardiger is Gert Jacobie. Die DVD is in vier tale beskikbaar, te wete Engels, Duits, Spaans en Frans.

Die DVD’s kos N$150 elk en kan by die volgende persone bestel word. Gene Carstens by gene@mweb.com.na of 081 127 4576 en Nicolette Jacobie by n.jacobie@gmail.com of 081 251 2088. Eksemplare is ook by Republikein se kantore in Omurambaweg, Eros, en Namibia FM99 in Teinertstraat in Windhoek beskikbaar.