30.01.2012 Noodlottige ongeluk op ‘Tienmylpas’
“EK en my vrou Loretta het afgelope Dinsdagoggend op hierdie ongeluk afgekom,” skryf Deon van Zyl. “Ons was op pad vanaf Tsumeb terug na die RSA. Dit was pas ná 07:00 en die noodreddingspan het pas begin hulp verleen.
“Die voertuig, ’n ‘truck and trailer’, was op pad vanaf Swakopmund na ’n dorpie in die verre Noorde met ’n vrag meubels toe die drywer die pad in die pas verlaat het. Ek vermoed hy het aan die slaap geraak. “Die wa-gedeelte het losgebreek en bo-oor die kajuitgedeelte gerol, waarin die drywer en sy hulpdrywer was, en het gedeeltelik op die kajuit tot stilstand gekom.
“Die prioriteit was om die wa vanaf die kajuit te verwyder sodat die beseerde (die hulpdrywer) uit die wrak verwyder kon word. Die insleepvoertuig het dwars oor die pad gestaan en dus die verkeer vanaf Tsumeb en Otavi geblokkeer. “’n Kabel was van daar om ’n boom, wat as stut gedien het, aan die wa gekoppel om dit sodoende van die kajuit weg te rol.
’n Laaigraaf het later bygekom om die wa vanaf ’n teenoorgestelde kant te ondersteun. “Na twee ure is die beseerde uitgehaal en afgevoer. Die lyk van die drywer is net daarna uitgehaal en ons kon verder in die pad val.”
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
|