10.11.2010 Een van daai besondere foto's
’n Besoek aan die Etosha Nasionale Park is nooit sonder opwinding nie en toeriste het ’n paar dae gelede goeie waarde vir hul geld gekry. Ute von Ludwiger vertel sy was by die Gemsbokvlakte-watergat, waar 13 leeus net langs die krip gelê en slaap het. ’n Kameelperd het van agter gekom en skielik het ’n paar leeus die kameelperd begin jaag. Hulle het haar rondom die watergat gejaag voordat sy die vlakte ingevaar het. Ten minste nege leeus was toe op haar hakke. Sy het dit net-net gemaak. “Dit het alles so vinnig gebeur. ‘Magic’. Ek het nog nooit so iets gesien nie.”
Meegaande foto is dalk een van haar bestes en beslis een van die beter aksiefoto's wat Republikein vanjaar ontvang het. Baie dankie vir die geleentheid wat lesers Republikein bied om besondere oomblikke met die res van die land te deel. Lesers wat hul foto's na Republikein stuur vir publikasie, gee daarmee saam toestemming dat DMH die foto's in enige vorm kan herproduseer. Daarom verskyn dit in fotoversamelings op ons webtuiste en in die meeste gevalle ook in een van die groep se koerante. Geen betaling word vir foto's gedoen nie en dit kom in baie gevalle nie daarop aan wat die kwaliteit is as die nuuswaarde daarvan die kunswaarde oorskry nie.
Republikein sal binnekort weer 'n foto-versameling vir massaverspreiding byeen sit. Laat dus die kameras rol en klik en stuur ook jou foto’s na lesers@republikein.com.na of SMS dit na 081 128 0489.
|