22.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

29.11.2010

Lesersfoto maak opslae

© Theron de Wit
Die foto wat Theron de Wit na Republikein gestuur het.
’n LESERSFOTO wat ’n paar weke gelede in Republikein gepubliseer is, het internasionaal opslae gemaak en vorm nou deel van ’n ondersoek én doktorstesis in Suid-Afrika.

Me. Justine Braby, ’n inwoner van Swakopmund, is by die Voëldemografie-eenheid (ADU) van die Universiteit van Kaapstad met ’n tesis oor die bewaring van damarasterretjies besig. Sy het Republikein gekontak om meer uit te vind oor ’n foto van ’n leser, Theron de Wit van Tsumeb, oor inwoners van Angola wat die sterretjies vang, aan die lewe hou en later doodmaak om te verkoop of te eet.

Mnr. De Wit het geskryf: “Die foto is in Tomwa, Angola, geneem. Hierdie voëltjies is die Damara sterretjie (sterna balaenarum) wat deur die plaaslike bevolking gevang en verkoop word. Hulle gebruik ’n klein stukkie aas soos vis met ’n klein hoekie en vislyn en vang hulle. Dan word die een vlerk gebreek en die voëltjie word dan begrawe dat net sy kop uitsteek. Dan word hulle lewendig gehou totdat dit later verkoop word om geëet te word. Ons het ook op plekke langs die kus gesien dat groter seevoëls vir dieselfde doel gevang is.”

Sy het dié inligting na die ADU deurgestuur en deur middel van die Suid-Afrikaanse Atlasvoëlprojek is ’n verslaggie daaroor op die internet gepubliseer.

Dié verslag lui dat hoewel mnr. De Wit sê dit is damarasterretjies, kan dit ook gewone sterretjies wees. “Maar ons is redelik seker dat daar damarasterretjies ook tussen hulle is.

“Ongeag die spesie is dit deel van ’n groot bewaringsprobleem.”

Volgens die verslag is die gewone sterretjies nou juis besig om te migreer al langs die Angolese kuslyn af vanaf die Baltiese See-streke. Daarenteen broei die damarasterretjie in Namibië tussen November en Februarie. Daarna migreer hulle noord na Wes-Afrika-lande en gebruik ook die Angolese kuslynroete.

Dié verslag het intussen ook ’n omgewingsverslaggewer van die Cape Argus bereik en soos me. Braby het mnr. John Yield ook kontak gemaak het mnr. De Wit om meer inligting te kry.

Mnr. De Wit het aan Republikein gesê hy voel nogal gevlei dat sy foto soveel aanklank geniet het.