9.03.2010 Lesers se verslae en foto’s stroom in
DIE groot hoeveelheid foto’s en verslae wat lesers deesdae deur middel van kortboodskap SMSdienste, MMS (MultiMedia-diens) en e-pos aan Republikein en sy susterskoerante stuur, is besig om die wyse waarop inligting deur Namibië vloei, te verander.
Briewe, telefoonoproepe met nuuswenke en persoonlike kontak werk nog goed, maar vir lesers wat hulle in die moderne kommunikasiestelsel ingegrawe het, is die selfoon veral die manier om kontak te maak.
Afgesien van hope skitterfoto’s uit die natuur waarvoor Namibiërs so lief is, begin nuusfoto’s en wenke ook nou deur die selfoon die redaksiekantoor bereik. Bydraes word selfs uit Suid-Afrika en van oorsee ontvang.
Dit laat die verantwoordelikheid op die nuuspersoneel van Republikein, soos in alle gevalle, om die betroubaarheid van die wenkgewers se stories na te gaan, maar dit is ewe maklik deurdat ’n selfoonnommer byna altyd beskikbaar is.
Die koerante in die DMH-groep behou hom die reg voor om bydraes te publiseer, gegewe die fatsoenlikheid daarvan en dat die inligting natuurlik vry van lasterlike uitlatings sal wees.
Lesers word genooi om elke enkele nuuswenk deur te stuur. Ons sal dit vir korrektheid nagaan en dan op ons webwerf publiseer en selfs na die koerante deurvoer.
’n Wenkgewer moet bloot ’n foto per MMS of SMS aan ons stuur, dit na ons pos op ons e-posadres of ons skakel en ons sal die nuus gaan haal waar dit is.
Ons koerante kan by www. republikein.com.na op die internet gevind word en bydraes kan gestuur word aan:
lesers@republikein.com.na,
laatnuus@republikein.com.na,
bydrae@gmail.com of
’n MMS kan gestuur word na 081 128 0489.
Lesers is welkom om klankgrepe of kort video’s oor gebeure te stuur. Die kontakpersoon om mee te praat by Republikein, is Gert Jacobie (081 128 0489)
|