30.08.2010 Windhoeker se kiekie laat vandale se turf sit
TWEE vlieëniers uit Benoni se kuiertjie in Windhoek het die manne verlede week ’n hele N$1 750 uit die sak gejaag toe hulle die hoofstad Maandagnag so ’n bietjie op horings geneem het.
“Uiteindelik het ek iemand gevang,” sê die inwoner wat die paar rowwe Jacks met sy digitale kamera help aankeer het.
Hy verkies om sy naam uit die storie te hou oor wat ’n beneukte ou of wat uit Benoni dalk kan aanvang as hulle weer in Namibië kom… Volgens die burgerlike speurder is hy vroeg Dinsdagmôre, omtrent ’n halfuur na middernag, wakker geskud deur ’n helse gedoente op die hoek van Uhland- en Barellastrate.
Toe hy gaan loer wat aangaan, was twee kêrels besig om die straatnaambord agterop ’n wit bakkie te laai.
“Hulle het die hele ding gevat!” vertel die leser.
Hy het rieme neergelê om sy kamera te gaan haal, maar toe hy teruggekom was die bakkie weg. Die kiekkans het sowat 20 minute later gekom toe die manne houtgerus by dieselfde plek verbygery het – die bord, paal en al, steeds duidelik sigbaar.
Die stadspolisie het dadelik gereageer op die inwoner se wenk en ’n foto van die oortreders by die hokaairoeper gaan haal. Die bakkie is gevind waar dit netjies voor ’n gastehuis in die hoofstad geparkeer was.
Volgens supt. Johan Kellerman van die stadspolisie het die twee loodse glo eers die bord platgery voor hulle dit toe maar saamgevat het. Die manne van Benoni kon nie onthou waar hulle van die bewysstuk ontslae geraak het nie.
Deur die loop van Dinsdag moes die kêrels onder die wakende oog van ’n stadspolisieman ’n hele N$1 456 vir ’n nuwe paal en twee straatnaamborde opdok.
Hulle is met ’n ekstra N$300 beboet, maar nie krimineel aangekla nie. Volgens supt. Kellerman kan die kalante hul sterre dank dat hul paaie nie in die nag met die polisie s’n gekruis het nie.
|