11.08.2010 Só kan dit nie aangaan!
’n ONTSTOKE boer uit die Gobabis- omgewing sê genoeg is nou genoeg!
Dié bakkievrag (foto bo) kalwers is Donderdag op die dorp by ’n speenkalfveiling afgeneem net voordat die diere letterlik van die bak afgesleep is (foto onder). Elke week word beeste op dié manier na die veilings op die dorp aangery.
“Die beeste word doodeenvoudig platgetrek op ’n bakkie. Die anderdag is drie groot koeie lê gemaak op ’n bak en die kalwers is bo-op hulle laat lê.”
Die boer, wat liefs nie genoem wil word nie, sê wanneer beeste lê en veral op hulle sye, is hulle geneig om op te blaas tydens die vervoer en gaan hulle dan maklik dood. Van die kalwers wat van dié bakkie afgesleep is, was reeds halfdood en hulle is net so eenkant laat lê om dood te gaan.
“By ’n vorige geleentheid is koeie ook so vervoer en ná hulle afgesleep is omdat die arme diere nie kon staan nie, is hulle met ’n ‘prodder’ aangespoor om op te staan.”
Die boer sê daar is al verskeie klagtes by die afslaers self, NaTis en die departement van veeartseny ingedien oor die vervoer van die beeste, maar niks is nog aan die saak gedoen nie.
Vir dié rede het hy hom nou na die koerant gewend.
By die veiling Donderdag is sowat 2 700 speenkalwers opgeveil. Volgens ’n woordvoerder van Agra is die speenkalfprys goed.
|