Personeel van Namibia Commercial Aviation (NCA) het hul grootbaas, Chris Schutte, Vrydag op ’n spesiale DC-6 koek getrakteer om sy 71ste verjaardag te vier.
Mnr. Schutte is nie net ‘n strydros van die Namibiese lugvaartbedryf nie, maar ook die eienaar van die klassieke Douglas DC-6B. Hy het twee Douglas DC- 6B vliegtuie – die laaste van hul soort wat in 1958 deur McDonnel Douglas in Amerika vervaardig is – in 1992 in Zambië gekoop.
Hy het maande lank gewerk om albei noukeurig tot hul eertydse glorie te restoureer. Een is later aan ’n energiedrankie-vervaardiger in Europa verkoop en word deesdae vir promosievlugte gebruik.
Albei vliegtuie is vroeër gebruik om staatshoofde te vervoer. Dit is in die sestigerjare aangewend om veldmaarskalk Tito van Joego-Slawië rond te vlieg en in die sewentigerjare is dit deur dié land aan oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië geskenk.