
Bella, ’n Britse bulhondteef van die plaas Toekoms in die Aranos-omgewing, se naam kan in die rekordboeke van honde opgeteken word nadat sy op 19 Julie ’n rekordgetal kleintjies in die lewe gebring het. Die werpsel het uit 14 klein hondjies bestaan, maar een het by geboorte gevrek. “Die kleintjies is in die Rhino Park Vet Clinic met ’n keisersnit gebore,” vertel me. Diana Binneman, dogter van me. Anna-Marie Scheepers van die Persche Bulldogs aan wie Bella behoort. “Daar is nege tefies en vier reuntjies en dit gaan goed met ma en die dertienling,” sê sy. Me. Binneman vertel dat sy ná die kleintjies se geboorte by bekende bulhondtelers en die registrasie-owerheid vir suiwergeteelde honde, KUSA, in Suid-Afrika navraag gedoen het oor die grootste werpsel bulhonde wat volgens hul rekords gebore is.