21.5.2012
 Argiewe:

Jongste vleispryse


15 April '12

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

31.01.2012

‘Witmense moenie skuldig voel oor grond’

Diescho oor produktiwiteit op plase

© Ronelle Rademeyer
Prof. Joseph Diescho het boere Donderdag by ’n inligtingsdag van die Kaiserstraat Boerevereniging oor grondhervorming toegespreek.
“SONDER wit boere kan landbou in Afrika nie floreer nie. Daarmee sê ek nie witmense is beter nie; ek sê witmense weet en verstaan beter hoe om met grond te werk.

“In vele opsigte is boere, in beide betekenisse van die woord, beter Afrikane as vele Afrikane self omdat hulle ’n diep verbintenis met grond het en weet hoe om dit te bewerk.”

So sê prof. Joseph Diescho, akademikus en politieke ontleder. Hy was Donderdag een van die sprekers by ’n inligtingsdag in Windhoek oor welvaartskepping wat deur die Kaiserstraat Boerevereniging aangebied is.

Hy het grondhervorming in Namibië teen die agtergrond hiervan bespreek.

Diescho, wat by Andara in Kavango grootgeword het, het beklemtoon dat Namibiërs nie grond moet besit indien hulle die plaaslewe as ’n stokperdjie beskou nie. Hy het in die verband na onder meer ministers verwys en ’n beroep op boere gedoen om nie hul plase te verkoop aan mense wat nie ernstig is om dit produktief te bedryf nie.

“Grond moet gaan na die mense wat weet hoe om daarop te produseer. Witmense het geen rede om skuldig te voel oor grond nie. Afrika is ons tuiste en ons moet Afrika ontwikkel ter wille van alle Afrikane, ongeag hul velkleur,” het hy gesê.

Diescho sê om die probleem van grond en grondhervorming in Afrika te verstaan, moet ’n mens die uiteenlopende lewensbeskouings van Afrikane en Westerlinge verstaan.

Hy het na die boek African Religion and Philosophy deur die Keniaanse professor John S. Mbiti verwys, waarin hy tot die slotsom kom die probleem in Afrika is ’n gebrek aan beplanning. Mbiti wys in sy boek daarop dat die woord “toekoms” in die meeste Afrikatale ontbreek. Die woord vir “môre” is dieselfde as die woord vir “gister”.

“Die grammatika en sintaksis van Afrikatale stop by die hede. Afrikane het ’n helder herinnering aan die verlede en ’n lewendige bewussyn van die hede, maar dit is waar dit eindig,” het Diescho gesê.

Teen dié agtergrond, sê hy, is dit duidelik waarom soveel Afrikalande grondhervorming in trurat bestuur.

“In Afrika gaan grondhervorming te dikwels nie oor wie is die mees produktiewe nie, dit handel oor politiek.”

Hy sê anders as mense van Afrika, is Westerlinge daarop ingestel om vir die toekoms voorsiening te maak. Die Europese klimaat het baie daarmee te make dat mense vanaf die vroegste tye geleer het om vir die koue wintermaande voorrade bymekaar te maak. In Afrika het die soel klimaat meegebring dat mense nie nodig gehad het om vir môre te beplan nie, het Diescho voorts verduidelik.

Hy sê die probleem met grondhervorming in Afrika is dat die twee lewensbeskouings nie in dialoog met mekaar is nie. “Die twee wêrelde is deur kolonialisme en apartheid van mekaar vervreem. Swartmense worstel met die beskouing dat hulle minderwaardig is en witmense glo hulle is meerderwaardig, ongeag wie wat sê. En dit neem baie lank vir mense om tot ander insigte gebring te word.”