Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kontak

Republikein publiseer elke Dinsdag landbounuus. Enigiemand met inligting kan vir Ronelle Rademeyer kontak by ronelle@republikein.com.na of 061 297 2096. Vir moontlike advertensies kan Daphne Muller by 061 297 2027 gekontak word.

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

22.07.2008

Windhoek-waterbank byna 100 jaar aktief

Grondwater


DIE Windhoek-akwifeer, of waterbank voorsien water aan Windhoekers reeds sedert 1911 en daar is steeds boorgate in gebruik wat so ver as 1928 terugdateer. Tot en met die voltooiing van die Goreangab-dam in die laat 1950’s was die Windhoek-akwifeer die hoofbron van watervoorsiening aan die hoofstad.

Met die voltooiing van die Von Bach- en Swakoppoort-damme het die hoofbron van watervoorsiening verskuif van grondwater na oppervlakwater. Die Windhoekakwifeer het egter steeds ’n baie belangrike komponent van die totale watervoorsieningstelsel gebly, veral ten tye van oppervlakwater tekorte. Teen die draai van die vorige eeu het Windhoek ’n potensieel ernstige watertekort in die gesig gestaar en daar is na verskeie alternatiewe gekyk om sulke tekorte uit die weg te ruim.

Die een alternatief wat uitgestaan het bo die ander, in terme van ontwikkelingskoste, sinvolle hulpbronnebestuur – en mag ek maar sê logika – was om die Windhoek-akwifeer se natuurlike dimensies, samestelling en bergingseienskappe beter te benut deur surplus oppervlakwater in die akwifeer te bank as sekuriteit vir droogtetye.

Die ondersoeke vir hierdie projek is afgehandel en boorwerk is gedoen. Wanneer die projek voltooi is, gaan surplus oppervlakwater in aanvullingsboorgate gepomp word van waar die water dan deur die akwifeer versprei om, wanneer nodig, deur verskeie produksieboorgate onttrek te word. Die akwifeer het ’n komplekse samestelling en word gevorm deur verskeie frakture, hoofsaaklik in die Auas-kwartsiete.

Die natuurlike aanvullingsgebied is juis geleë in hierdie kwartsiete suid van die stad. Die grondwatervloei is algemeen in ’n noordelike rigting, en skiste van die Damara Groep “omring” die kwartsiete, wat veroorsaak dat die akwifeer as’t ware as ’n emmer of koppie gesien kan word. Die gevolg is dat daar baie min grondwaterverliese uit die akwifeer is – dus kan die water wat in die akwifeer is so te sê in geheel vir watervoorsiening gebruik word.

Die natuurlike grondwater aanvulling word tans konserwatief beraam op ongeveer 1.7 Mm3 per jaar, waarvan ongeveer 0.6 Mm3 per jaar as baie diep grondwater sirkuleer. Hierdie water kom in die noordelike dele van die akwifeer voor as warm water (as gevolg van die diep sirkulasie van die grondwater verhoog die water se temperatuur onderhewig aan die geotermiese gradiënt). Gemiddeld is daar dus ongeveer 1.1 Mm3 per jaar wat vlakker sirkuleer en as volhoubare grondwater benut kan word.

Die akwifeer dra huidig ongeveer 0.5 Mm3 per jaar by tot die totale watervoorsiening aan Windhoek, wat in die orde van 22 Mm3 per jaar beloop. Die volume uit die boorgate kan, wanneer die waterbankingsprojek voltooi en die akwifeer “vol” is, opgestoot word tot in die orde van 19 Mm3 per jaar. Die interessante aspek ten opsigte van die volhoubare benutting van hierdie akwifeer is juis dat dit, wanneer dit gebruik word tydens oppervlakwaterskaarste, oorbenut gaan word. In sulke tye word dit dus nie volhoubaar benut nie, maar gemyn.

Die balans word egter weer herstel wanneer surplus oppervlakwater beskikbaar is, en dit dan gebank word om die watervlakke na die oorspronklike vlakke te herstel. Omdat hierdie akwifeer hoofsaaklik uit gebreekte kwartsiet (frakture) bestaan, is dit ongelukkig ook baie kwesbaar teen enige vorm van besoedeling, veral in die suidelike dele waar die aanvullingsgebied is.

Tydens vorige ondersoeke in die aanvullingsgebied is geweldige hoë grondwatervloei-snelhede gemeet, wat maar net bevestig dat enige besoedeling binne ’n kort tydjie deur groot dele van die akwifeer kan versprei en dit onbruikbaar maak. Windhoek se munisipaliteit het die belangrikheid van hierdie akwifeer besef, asook die noodsaaklikheid om die akwifeer teen besoedeling te beskerm. Daar is derhalwe ’n sogenaamde grondwater beskermingsgebied geproklameer waar geen ontwikkelings plaasvind nie.

Gegewe die tekort aan ontwikkelingspasie, moet die munisipaliteit geloof word vir hierdie stap, en ek kan net pleit dat ander instansies dieselfde sensitiwiteit vir ons grondwaterbronne sal ontwikkel en openbaar. Windhoek self is ’n uiters belangrike skakel in die ekonomiese groei van Namibië. Sou die stad dus aan uiterste watertekorte blootgestel word, of erger nog, sonder water wees, sal dit katastrofiese gevolge vir die nasionale ekonomie inhou.

Net soos die karst-akwifere strategies is in terme van hul rugsteunfunksie vir watervoorsiening aan die sentrale dele, is die Windhoek-akwifeer strategies om dieselfde rede. Bykomend tot hierdie strategiese belang, het die Windhoekakwifeer die voordeel dat dit water wat andersins meestal sou verdamp het uit ons damme, nou kan berg en beskikbaar maak vir tye wanneer dit werklik nodig is.

Het jy al ooit gewonder hoe lyk Windhoek se ondergrondse watersituasie? In hierdie aflewering bespreek Otto van Vuuren die strategies belangrike Windhoek-akwifeer wat reeds sedert 1911 water aan die stad voorsien.

Van Vuuren, bestuurder van geohidrologie by NamWater in Windhoek, lewer die reeks artikels oor grondwater in sy persoonlike hoedanigheid en nie as ’n NamWaterwerknemer nie.

Lesers kan hul vrae oor grondwater aan hom stuur by grondwater@ gmail.com

Otto van Vuuren