24.08.2010 Veldtog bevorder plaaslike produkte
 Minister John Mutorwa (regs) het die Oshetu-bemarkingsinisiatief vir plaaslik geproduseerde vars produkte tydens ‘n inligtingsdag op Outapi bekendgestel. By hom is mnr. Vilho Nghipondoka, voorsitter van die Akkerbouraad.
’n GESAMENTLIKE veldtog van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en die Akkerbouraad van Namibië om die gebruik van plaaslik vervaardigde produkte te bevorder, is vroeër vandeesmaand op Outapi tydens ’n akkerboudag bekendgestel.
Die veldtog, bekend as Oshetu, sal vir die volgende drie maande aan die gang wees en het ten doel om die opvatting van verbruikers teenoor plaaslik gekweekte vrugte en groente te verander en sodoende ook hul kooppatrone tot voordeel van Namibiese produsente te verander.
Die Akkerbouraad het vyf jaar gelede die Namibiese Markaandeel-promosie geïmplementeer waarvolgens die invoerders van vars produkte ’n sekere minimum persentasie van die ingevoerde produkte se waarde aan plaaslik geproduseerde produkte moet bestee om nie hul invoerpermitte te verminder nie.
Die aanvanklike persentasie was 5%, maar dit is onlangs na 32.5% verhoog na aanleiding van ’n verslag deur PricewaterhouseCoopers wat bepaal het dat 60% van ingevoerde produkte deur plaaslik vervangde produkte ver vang kan word, luidens die hoof uitvoerende beampte van die Akkerbouraad, mnr. Christof Brock.
Volgens ’n verklaring wat deur hom uitgereik is, het die verhoogde persentasie vir plaaslike aankope nuwe uitdagings gestel in die vorm van ’n behoefte aan bemarkinginfrastruktuur en ’n verhoogde bewusmaking onder verbruikers oor die voordele daaraan verbonde om plaaslik geproduseerde vars produkte te gebruik.
Die Ministerie is volgens mnr. Brock reeds besig om die bemarkingsinfrastruktuur te ondersoek. In die lig hiervan het die Akkerbouraad saam met Team Namibia, waarvan dit ’n stigterslid is, besluit om die drie maande veldtog van stapel te stuur. Die veldtog is amptelik deur Minister John Mutorwa bekendgestel.
“Team Namibia ondersteun enige poging of projek om die ‘koop plaaslik’-veldtog te bevorder in ’n poging om binnelandse produksie te verhoog.
“Daarom steun ons die Akkerbouraad se Oshetu-projek. Oshetu beteken in Oshiwambo ‘dit is ons s’n’,” het me. Yanna Erasmus, hoofbestuurder van Team Namibia, gesê.
Sy het ’n beroep op verbruikers gedoen om die plaaslike produkte te koop en het die produsente aangemoedig om hul produkte met die seël van Namibiese goedheid en gehalte te merk.
|