
Mnr. Alfred Angula.
DIE Namibiese Plaaswerkersunie (Nafwu) gaan soveel as moontlik kommersiële, kommunale en hervestigde boere op hul plase besoek as deel van ’n veldtog wat daarop gemik is om vas te stel of plaaseienaars die voorgeskrewe minimum loon aan hul plaaswerkers betaal of nie.
Plaaseienaars moet volgens wet hul werkers ’n minimum van N$560 plus rantsoene ter waarde van N$300 per maand betaal, of andersins N$2,87 per uur.
Mnr. Alfred Angula, sekretaris-generaal van Nafwu, sê die werk- en leefomstandighede van plaaswerkers het sedert onafhanklikwording nie veel verander nie en baie werkers word steeds uitgebuit.
Hy het gewaarsku dat werkgewers in die landbousektor wat hulle nie bepaal by die minimum loon soos voorgeskryf in die Staatskoerant van 14 Desember 2009 nie, “op rekord geplaas sal word en dienoorkomstig mee gehandel sal word”.
Mnr. Angula het voorts gewaarsku dat boere wat nou eers begin het om hul werkers die voorgeskrewe loon te betaal, seker moet maak alle agterstallige gelde word bygereken, anders gaan regstappe teen hulle gedoen word.
Die vuurvreter sekretaris-generaal van Nafwu het dit by vorige geleenthede duidelik gemaak dat daar selfs parlementariërs is wat hulle aan sodanige wanbetaling skuldig maak en dat dit nie geduld sal word nie.
Hy het voorts gewaarsku dat plaaseienaars – wit of swart – wat plaaswerkers sonder meer van hul plase afsit, eweneens met die unie te doen sal kry. Spanne van die unie het reeds die afgelope naweek met die loonondersoek begin.
Mnr. Angula het gewaarsku dat plaaseienaars nie lede van die unie toegang tot hul plase moet weier nie. Hy het onderneem om vooraf met plaaseienaars kontak te maak sodat reëling rondom die oopsluit van hekke getref kan word.