15.07.2008 Swak ekonomie gaan vleispryse knou
ASOF die styging in produksiekoste nie genoeg is nie, lyk dit asof die wittebrood van hoër vleispryse vir eers iets van die verlede is vir beesboere in Suider-Afrika. Die afname in ekonomiese groei en verbruikers se kleiner bestedingsvermoë laat tans geen ruimte vir ’n styging in die prys van rooivleis nie. Meatco haal in sy elektroniese nuusbrief die Suid-Afrikaanse landbou-ekonoom, Johan Willemse, as volg hieroor aan: “Veranderinge in die vraag en aanbod bepaal die pryse.
Die markmeganisme se werking is so dat die koste wat nie verhaal word nie lei tot ’n kleiner aanbod en die kleiner aanbod prikkel weer ’n stygende neiging. Net so sal die prys daal as die vraag verswak en die aanbod toeneem. “’n Hele aantal dinge bepaal die onderliggende vraag en aanbod – en die pryse – in die rooivleisbedryf. Hierdie faktore het die afgelope jaar ingrypend verander. Willemse, ’n gereelde skrywer in Landbouweekblad, sê voergraanpryse gaan bly styg.
Hy meen dit het tyd geword dat beesboere ophou fokus op speenkalfpryse en die vraag waarom dié pryse nie styg nie. “In ’n veilingsmodel is dit slegs vraag en aanbod wat pryse op die korttermyn bepaal. Om te wil argumenteer dat pryse móét styg, is nie die regte benadering nie. Boere moet dit as deel van ’n groter geheel sien. “Ekonomiese groei in Suider-Afrika is redelik aan die afplat.
Daarmee saam krimp verbruikers se besteevermoë. Dit volg op ’n tydperk van sterk ekonomiese groei en bestedingsgroei. Die ondervinding het geleer dat vleispryse nie in ’n fase van ekonomiese afswaai styg nie.” Willemse sê dit beteken nie dat alles tot stilstand gaan kom nie, maar bloot dat die huidige ekonomiese klimaat nie ruimte skep vir prysstygings op verbruikersvlak nie.
In die geval van rooivleis is daar boonop goedkoper plaasvervangers, soos hoender- en varkvleis. Meatco sê in sy nuusbrief die Namibiese produsente is ander byvoorbeeld die produsente in Suid-Afrika in ’n voordelige posisie aangesien hulle toegang het tot ’n uitvoermark. As gevolg van die hoër pryse elders in die wêreld, kan plaaslike produsente in die uitvoermark meer verdien vir karkasse. Daarmee saam is die wisselkoers ook gunstig vir uitvoere. Meatco sê hy verwag dus dat pryse plaaslik eerder sywaarts sal beweeg as wat dit sal daal.
|