31.01.2012 Só leef kwarantynkamp se werkers
 Dit is waar die twee handlangers van die kwarantynkamp by Condor bly. In die middel is die stoorkamer waarvan die dak al lankal afgewaai het. Een van die handlangers, mnr. Sebastian Gowaseb, staan voor sy huis.
BY die Condor-kwarantynkamp naby die nedersetting Erweë in die Kunenestreek bly die handlangers in moeilike omstandighede. Die twee handlangers se sinkhuise laat veel te wense oor. Die stoorkamer se dak het afgewaai, die puttoilet is vol en daar is geen elektrisiteit nie. Drinkwater en water vir kookdoeleindes moet uit ’n tenk geskep word. Sodra die tenk leeg is, moet die handlangers laat weet dat die water weer aangevul word. Die boorgat se water is net bedoel vir die vee wat in kwarantyn staan en die handlangers mag nie van die boorgat se water drink nie.
 Mnr. Sebastian Gowaseb, by die puttoilet by die kwarantynkamp van Condor wat reeds vyf jaar vol is.
Dit is slangwêreld hierdie met ’n ou slangvel wat reg langs die puttoilet lê waar slang se kind sy ou vel afgeskud het. Die puttoilet is glo al vyf jaar vol en ’n nuwe put word nie gegrawe nie. Een van die handlangers se huis het groot gate by die fondasie waar slange glo graag inkruip. Een van die handlangers het self vir hom nog ’n vertrek van klei aangebou omdat die eenvertrek sinkhuis baie klein is. Hy het ook op sy eie koste vir hom ’n sonpaneel aangeskaf omdat daar nie elektrisiteit is nie. Een van die handlangers bly al vyf jaar in die kwarantynkamp en kla op elke vergadering oor hul probleme en tekortkominge, maar daar word glo nie gehoor gegee nie.
 Di e wa tertenk waar drinkwater en water vir kookdoeleindes gestoor word.
Hulle is onder meer verantwoordelik om die heining van die kwarantyngebied te patrolleer en te sorg dat daar water vir die vee is. Kwarantynkampe ressorteer onder die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou se direktoraat veeartsenydienste waar vee kragtens wet vir ’n ruk onder kwarantyn moet staan voordat dit die veeartsenykordonlyn, ofte wel die rooilyn, kan oorsteek. Mnr. Ephraim Asulu, dieregesondheidtegnikus en toesighouer van die Condorkwarantynkamp, is op Erweë gestasioneer en is bewus van die behuisingsprobleme op Condor. Volgens Asulu moet nuwe huise by die kwarantynkamp gebou word. “Die behuising op Condor lyk nie goed nie en is nie op standaard nie,” het hy gesê.
“Daar is egter nie genoeg geld nie en dit is nie net Condor wat huise nodig het nie. Daar is ander kwarantynkampe waar ook ’n behoefte aan beter behuising is,” het Asulu verduidelik. “Daar is tans geld begroot vir ’n projek om huise by die Kandesha-hek en Palmfontein te bou. Sodra die huise voltooi is, sal huise by Condor gebou word,” het hy gesê. “Ons het reeds ons versoek aan die Ministerie gerig. Nou moet ons net wag en sien wat die Regering vir ons gaan doen.”
|