Jongste vleispryse


07 Februarie '12

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

7.09.2010

Só beoordeel jy ’n bees op die hoef

© Verskaf
’n Dier se vetbedekking is ’n belangrike faktor wat tydens die gradering van die karkas ’n rol speel. As ’n dier op die hoef vir sy vetbedekking beoordeel word, moet onthou word dat twee derdes van die karkas hiervoor in aanmerking moet kom.

KEN jou beeste en weet hoe om die dier in die kraal of die veld te beoordeel voordat jy hulle uitkeer om geslag te word. Dít is die goue reël indien jy wil hê jou diere moet so uitslag dat jy die beste moontlike prys per kilogram in jou sak steek.

Mnr. Koos Claassens, ’n voorsieningsbestuurder by Meatco in Windhoek, sê die produsent wat weet wat die mark vra en daarin slaag om met ’n kundige oog ’n dier op die hoef so te takseer dat hy die regte produk vir die regte mark uitsoek, is die produsent wat op die ou end die meeste geld in sy sak steek.

“Die boer moet weet of hy ’n bepaalde dier by Meatco kan laat slag omdat dit aan die graderingsvereistes voldoen en of hy dit eerder vir sy plaaslike slagter moet aanbied of op ’n veiling van die hand moet sit.”

Om dit te kan regkry, sê hy, moet die produsent op hoogte wees van die vyf faktore wat tydens die gradering van ’n karkas ’n rol speel.

“Die eerste belangrike faktor is die ouderdom van die dier. Diere wat A-grade behaal, het geen permanente tande nie en is gewoonlik nie ouer as 18 maande nie, terwyl die AB-grade diere is met een tot twee permanente tande. Dit beteken hulle is tussen die ouderdom van 18 en 24 maande.”

B-grade is beeste met drie tot ses permanente tande, wat beteken hulle is tussen 24 en 42 maande oud. C-grade is ouer as 42 maande, of vier jaar, en het sewe tot agt permanente tande. Hierdie is bloot ’n deursneeriglyn en kan van ras tot ras verskil.

Mnr. Claassens sê hoewel elke produsent graag A-graderings wil laat slag, is dit nie in die Namibiese kommersiële boerdery-omstandighede altyd moontlik nie.

“Die meeste kommersiële boere se diere wat by Meatco geslag word, is AB-grade.”

Die dier se vetbedekking is die tweede belangrike faktor wat tydens die gradering van die karkas ’n rol speel.

“As ’n produsent sy dier op die hoef vir sy vetbedekking beoordeel, moet hy onthou dat twee derdes van die karkas hiervoor in aanmerking moet kom.”

Te maer en te vet deug nie. ’n Medium vetbedding is die ideaal, sê mnr. Claassens.

“Dit beteken die dier het ’n vetlagie van tussen een en sewe millimeter. Só ’n dier gradeer op die vetkode 1 tot 4 en behaal die hoogste prys.”

Die dier se bouvorm of bespiering is die derde faktor wat die produsent in ag moet neem wanneer hy sy beeste vir verslagting by Meatco uitsoek.

“’n Te plat dier is nie gewens nie. Die meeste kommersiële karkasse het ’n medium bouvorm met die bouvormkode van 3. ’n Baie plat bouvorm gradeer op die bouvormkode 1 en ’n ronde bouvorm op die kode 5.”

Sodra ’n karkas swaarder as 230 kg uitslag, is daar geen penalisering op bouvorm nie. Die vierde belangrike faktor is die huidgradering, aangesien dit ook ’n invloed het op die geld wat die produsent uiteindelik in sy sak sal steek. Die aangekondigde prys is vir ’n graad 1 huidgradering. Graad 2 huide verdien 8 c/kg minder en graad 3 huide 13 c/kg minder. Die vyfde faktor wat die produsent in ag moet neem, is die dier se massa.

“Die dier se massa is baie belangrik, aangesien die produsent bepaalde premies ontvang vir die massa wat die dier uitslag.”

Die aangekondigde prys wat deur middel van die media aan die produsent deurgegee word, is vir ’n karkas wat 230 kg uitslag.

“Konserwatief bereken slag ’n karkas omtrent 50 persent van sy lewendige gewig uit. Dit beteken dat wanneer die produsent sy diere in die kraal vir ’n slagbeurt by Meatco uitsoek, moet die dier lewendig so 460 kg weeg. As die dier daardie gewig weeg, die regte ouderdom is, die regte vetbedekking en bouvorm het en sy huidgradering reg is, kry die produsent die beste moontlike prys in sy sak.”

Volgens mnr. Claassens is daar deesdae baie nuwe toetreders tot die kommersiële beesboerderybedryf wat nog nie oor die kundigheid en ervaring beskik om ’n bees met die eerste oogopslag reg te takseer nie.

“Meatco doen baie moeite om by boereverenigingvergaderings en landbousaamtrekke dié inligting met produsente te bespreek.”

Produsente wat meer oor die beoordeling van ’n dier op die hoef te wete wil kom, kan mnr. Claassens by 081 127 6146 skakel.