
Mnr. Alpheus !Naruseb
VERTEENWOORDIGERS van tradisionele owerhede, streekrade en ander belanghebbendes in Oshikoto, Ohangwena, Oshana, Omusati en Kunene het Vrydag ’n tweedagse slypskool op Ongwediva afgesluit om by te dra tot die voorgestelde samesmelting van die land se twee grondhervormingswette.
Die slypskool is amptelik deur die Minister van Grond en Hervestiging, mnr. Alpheus !Naruseb, geopen.
Mnr. !Naruseb het gesê sy Ministerie het die proses om die huidige grondhervormingswette – Wet 6 van 1995 en Wet 5 van 2002 – te wysig en te amalgameer op grond van ervaringe met die grondhervormingsprogram die afgelope 14 jaar aan die gang te sit.
“Die konsolidasie van die Kommunale en die Kommersiële Grondhervormingswet het ten doel om ’n enkele wet vir die land daar te stel; om te verseker dat al die grond in Namibië dieselfde status geniet en dat geen grond as meerder- of minderwaardig beskou sal word nie,” het mnr. !Naruseb gesê.
Dit is 20 jaar ná onafhanklikwording en dit is tyd, volgens mnr. !Naruseb, om ’n gelyke speelveld daar te stel.
Indien Namibiërs werklik die meesters van hul eie lot is, kan hy nie verstaan “hoekom ons voortdurend verskonend optree oor dinge wat ons by magte is om te verander nie”.
“Grond speel ’n sentrale rol in die verligting van armoede en administrasie hiervan vereis vennootskap en toewyding van almal,” het hy gesê.
Volgens hom sal die wysiging en die samesmelting van die twee grondhervormingswette die administrasie van grond in Namibië verbeter. Na die reeks konsultatiewe slypskole sal die konsepwet in Maart tydens die nasionale konferensie vir belanghebbendes verfyn word.
Ook teenwoordig by die slypskool was onder andere Adjunkminister Henock Ya Kasita; permanente sekretaris Lidwina Shapwa en goewerneurs Clemens Kashuupulwa van Oshana en Dudu Murorua van Kunene.